Nadele ja, maar terselfdertyd baie bevredigend

GEE my net die langpad en ek is dolgelukkig, soos Piet Botha in sy liedjie ?Sien jou weer?, sing: ?Kyk nou die langpad roep my nou maar weer. Daar is genade en liefde en nog baie meer.?

Ek het die afgelope jaar en nege maande en een dag wat ek weer vir Republikein werk, die wonderlikste reise onderneem. Ek het in die kort tydperk die mooiste plekke in ons land gesien wat nooit sou gerealiseer het as ek byvoorbeeld ?n ?gewone? kantoorwerk gehad het nie. ?n Beroep as joernalis het baie voor- en nadele.

Een nadeel is die lang, ongewone ure waar jy nie vooraf afsprake met vriende kan maak nie, want ?n groot storie kan op die nippertjie breek. ?n Groot voordeel vir my is reis. So het ek soms alleen en soms saam met reisgenote die langpad aangepak en soms het ek gevlieg. Ek was bevoorreg om die asemrowende Sossusvlei en die Visrivier-spoelvallei uit die lug te sien.

Ek het gratis vlieglesse van ?n vriendelike (en geduldige) vlieënier gekry. Ek het nog net aangename reisgenote gehad en so het ek nuwe vriende op die langpad gemaak. Ek was bevoorreg om van die luuksste lodges in die land te besoek, skaars wild te besigtig en met ?n jagluiperd te speel. (Rus in vrede, Nala van Sandfontein).

Ek het Caprivi River Lodge se befaamde mak vlakvark, Wally, ontmoet wat saam met my wou stort. Ek het in ?n boomhuis by Camp Kwando geslaap en op die Kwandorivier tydens ?n skemerbootrit was ek skrikwekkend naby aan ?n seekoei wat sy lang tande vir my gewys het.

Ek het vir my ?n meme-rok ofte wel ?n ?ôdelela? op Ongwediva gekoop en sade-krale van ?n Himba-meisie op Opuwo. Ek het saam met die Himbas gedans. In die diep Suide tussen Aus en Lüderitz het ek ?n dankgebed gebid toe ek deur die landskap ry met sy berge wat in die verte van kleur verander. Ek het ?n vallei van regtig ?n duisend heuwels aan die voet van die Namibwoestyn gesien.

?Ek loop baie saam met die nag en die wind.?

Aan die oewer van die Oranjerivier en tussen Damaraland se klipkoppe het ek middernag plat op my rug gelê en die skone uitspansel bewonder. Ek was dankbaar dat ek weer die Suiderkruis kon sien, want dit beteken ek is by die huis. (Die Suiderkruis was een van die dinge wat ek die meeste gemis het toe ek in Taiwan gebly het.) Ek het gedans in die eerste, welkome reënbui van die reënseisoen. Niks ruik so lekker soos reën op ons stofpaaie nie.

Dit is vir my steeds ongelooflik dat hierdie land binne ?n ommesientjie groen word na net ?n bietjie reën. ?n Karaktertrek van Namibiërs is dat ons altyd uitvra oor die reën pas nadat ons gegroet het: ?Hoe gaan dit? Hoeveel reën het julle gehad??

Ek het aandete op ?n rooi duin met ?n asemrowende sonsondergang in die Kalahari geniet. Ek het eg-Namibiese ?cuisine? soos Brötchen, majowas, kapana, Kalahari-truffels en wildsvleis verslind. Ek het selfs ?n mopaniewurm geproe. Dis nog iets wat besonders van ons land is: ons mense is nie bang vir lekker eet nie, veral nie vleis nie.

Ek ken regtig net een vegetariër in die land. ?n Wonderlike eienskap van ons land is ons vriendelike mense. (Behalwe miskien op ons grensposte). Vreemdelinge groet mekaar op straat en vra uit oor mekaar se wel en weë. Die wonderlikste ding is dat ek oral in my land my moedertaal, Afrikaans, kan hoor en praat.

Engels is ons amptelike taal, maar ons praat steeds ons verskillende moedertale. Ons is ook nie bang om mekaar se tale te leer nie en die meeste van ons kan ten minste twee of drie tale praat. Op ons lieflike land se lang paaie is daar beslis baie genade en liefde. En nog baie meer.

Kategorie: 

Facebook kommentaar