
Estelle de Bruyn
EEN van die lekkerste persente wat ek in ‘n lang tyd gekry het, was ‘n leë boek. Nie heeltemal leeg nie, maar ‘n boek wat ek self moet volskryf. ‘n Boek van lysies. Dierbare vriendin Elsabé het vir my die boek vir Kersfees gegee. In haar eie handskrif is die opskrifte van die verskillende “hoofstukke” ingeskryf.
Vyf mense wat die grootste invloed op jou lewe gehad het en hoekom; vyf gebeurtenisse in jou lewe wat die grootste invloed op jou gehad het en hoekom; vyf internasionale gebeure wat jou lewe beïnvloed het; vyf herinneringe aan jou kinderdae; vyf herinneringe aan jou ma; vyf herinneringe aan jou pa; jou vyf gunsteling boeke (tot op hede); vyf gunsteling flieks (tot op hede); vyf lewenswaardes waarvolgens jy jou lewe wil leef; vyf bekende mense wat al dood is, wat jy graag sou wou ontmoet en nooi vir ‘n ete; vyf bekendes wat nog lewe wat jy graag wil ontmoet en nooi vir ete; vyf beste reiservarings tot nou toe; vyf goed wat jou vies maak; vyf goed wat jy wil hê jou kinders van jou moet onthou; vyf goed wat jy graag eet.
En vele meer. ‘n Heerlike, heerlike persent. Aanvanklik besluit ek om eers rofweg lysies te maak sodat ek nie dalk ‘n fout in my mooi boek maak nie, maar toe besluit ek basta! Dis my boek en ek gaan spontaan uit die hart uit die eerste ding wat in my kop kom daarin skryf.
My gedagtes loop ver paaie na my kinderdae en ek onthou my pophuis en die moerbeiboom agter in ons erf toe ek klein was; my pa wat met ‘n swartraam-leesbril ‘n boek lees met die ou worshond op sy skoot; my ma se kaasskons en sitrusmarmelade; lang vakansies in Etosha en ‘n kort besoek aan New Orleans. So ‘n boek is ‘n kleinood wat jou laat delf in ou, amper vergete herinneringe, wat jou goeie tye laat herleef en opnuut vars laat onthou.
Party lysies is vinniger om vol te maak as ander. Hoe kies ek net vyf boeke óf moet ek kul en vyf skrywers kies? Wie sou ek nooi om by my te kom eet uit die geskiedenis? Jesus, Ché Guavara, Hunter S. Thompson, Genghis Khan, Edith Piaf, Leonardo da Vinci, Pochahontas. Die lysie is klaar te lank. Ek sukkel ook met die lysie van dinge wat my vies maak.
Vies is ligtelik vererg. Boosaardig kwaad is iets anders: geweld teen vroue en kinders; ongeregtigheid; onregverdigheid; mense wat nie asseblief en dankie sê nie; mense wat my kinders te na kom. Ek onthou ook nie so mooi al die flieks wat ek al gesien het nie en die mees onlangse flieks is die varsste in my geheue soos die Sweedse fliek, Like it is in Heaven, wat tans heel bo-aan my gewildheidslysie is.
Hoe versoen ek die uiteenlopendheid van my musieksmaak van Carmina Burana na Bat out of Hell van Meatloaf en beperk die lysie tot ‘n skamele vyf liedjies? Ek is nog lank nie klaar met my lysies nie. Die res van die boek se bladsye is oop en hou die belofte in dat in die jare wat kom, ek nog lysies kan byvoeg en kan redigeer aan dié wat ek reeds gemaak het.
My boek is ‘n kleinood wat saam met my van die sonnetjie op die voorstoep na die stilte van my studeerkamer en dan weer na die kassie langs my bed reis. ‘n Sagte troeteldier wat in my gemoed kom lêplek kry het en daar is om gestreel te word.