|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
23.01.2012 Mooi herinneringe is van groter waarde as aardse besittings
EENMAAL lank gelede op ’n somersaand het reëndruppeltjies soos trane van geluk oor die voorruit van ’n koddige, geel karretjie gerol, of so het dit vir ons gelyk omdat ons jonk en bly was om mekaar te ken. Ons het sosaties by ’n padstal gekoop en vir ure lank daar onder die doringboom gesels oor die dinge van ons lewens wat van ons gemaak het wie ons is.
Weeksdae het ons fluks gewerk sodat die tyd vinniger kon verbygaan totdat ons mekaar weer Vrydagaand kon sien. Ons het albei probeer om nie te bel nie en nie te veel aandag aan mekaar te skenk nie, dalk sodat die naweke se weersien soveel meer betekenis kon hê, andersyds om nie te erg te laat blyk hoeveel ons omgee nie. Dalk was ons maar net albei skugter om nie ons tweede kans op geluk geheel en al te verbrou nie. Nie een van ons het destyds veel verdien of veel besit nie, maar ons het dit graag gedeel soos ons vandag nog ons herinneringe aan vergange dae deel. Die leer-mekaar-ken-tyd was ’n avontuur en die aandjies uit of tuis was elkeen ’n eiesoortige belewenis. Juis omdat ons vreugde kon vind in eenvoudige alledaagse goed soos saam kosmaak en video’s kyk, was ons tydjies saam na ons mening onvergeetlik. Ons het van tyd tot tyd vir mekaar klein geskenkies gekoop, sommer alledaagse dingetjies soos sjokolade, gelukbringertjies of ’n oulike nuwe sigaretaansteker – alles was klein aandenkings. Onthou jy? Elkeen van ons het êrens op sy lewenspad sulke oomblikke van soet romanse ervaar. Diegene wat meer sentimenteel is, het waarskynlik aandenkings om te koester en besoek gereeld die nostalgiese herinneringe, ander is straks so gelukkig om nog sy romantiese ervaringe na al die jare met dieselfde lewensmaat te kan deel en bou straks tesame aan ’n geheuebank van geluk. Dit is veral vroue wat graag vertel van hul romantiese ervaringe in die verre of dalk nabye verlede. Die blote feit dat iemand nie oor sy flirtasies met die liefde met ander gesels nie, beteken nie noodwendig dat dit nie bestaan nie. Self die hardvogtigste suurpruime het dikwels die mooiste herinneringe wat jaloers bewaar word en miskien eenmaal in ’n ewigheid uitgehaal, afgestof en oordink word. Laasgenoemde is veral die geval waar die liefde in hartseer ontaard het, maar selfs al is ’n mens se herinneringe bittersoet, of al is jy met verwyt of selfverwyt daaroor vervul, bly dit in die mens se aard om die verlede te oordink. Dalk kom ons tot die gevolgtrekking dat die herinneringe dikwels veel mooier in die geheue is as wat die oomblik werklik was, miskien is dit bloot ’n herlewing van eertydse vreugde omdat die kwellinge van die teenwoordige tyd dreig om jou te oorweldig. Ek is egter van die oortuiging dat God die mens geseën het met ’n geheue juis sodat jy sal onthou waarom jy vir iemand omgee en sodat jy ’n maatstaf mag hê om die goeie teen die slegte te kan opweeg. Dit is seker daarom dat mense na die dood van hul geliefdes nie die verkeerde en slegte so duidelik soos die goeie en gelukkige tye saam kan onthou nie. Audrey van der Westhuizen |