
Des Erasmus
IN ’n biltongstal langs die wapad stry ’n Gautenger oor die prys. ’n Volle N$170 per kilogram, beantwoord die winkelman sy vraag. “Ek wil nie aandele in jou plekkie koop nie,” sê die besoeker. “Ek soek ’n happie vir die pad.” Waarop besluit word om nie betrokke te raak nie. Maar niks verhoed my om daar in my hoekie sommetjies te maak nie.
Die oggend het oor die eter die heersende olieprys uit ’n verre land gekom. Dis per vat en dit koers oor die honderd en veertig. Op die hoekstasie sal die drawwende syferprys op die petrolpomp dus meer as N$10 per liter wys. Wat is die meeste? Sê maar dit is gelyk aan tien kilometer op daai liter.
Hoe ver sal dan aan een kilogram biltong gesmul moet word om ’n vergelykende afstand te kry. Vir ’n antwoord lê ou Bester se wiskundeklas te ver in die verskiet. Gelukkig groet ’n ou vriend en suiwer hy my denke van die syferpolitiek. Maar nie van biltong nie. Wat sou oom Kolie van Koekenaap en ta’ Lenie van die Khomas Hochland se Namibwand van die heersende pryse gesê het?
Straks sou hulle die sukkelende boerderye daar en dan gelos het en tot die biltongkuur oorgegaan het. In elk geval kon geen geld ter wêreld vir hul produkte betaal het nie. Oom Kolie het hoeka politiek van sy biltong gemaak. Hy’t gesê hy stem Nasenaal en die biltongkuns kom van die Voortrekkers.
“Bloed van my bloed,” het hy gesê terwyl hy die steenbokboudjie vir die hangslag gekastei het. Hy’t altyd gesê op die gebied van jag, geld die Wet van Transvaal nie vir Namakwaland nie. As gebore optimiste glo die Namakwalanders elke jaar dit gaan goed reën. Daarom is daar ook akkerbou in die Kners. Steenbokkies was beskerm, maar kruip hulle deur die heining na die landerye is hulle onder die veiligheidsnet van die wet uit.
Oor sy veldbokkies het hy altyd vertel hy’t gemeen hy het hulle op die landerye gekwes en moes hulle toe tot oorkant die heining agtervolg. Eers met die doodskoot het hy vasgestel die mooi goedjies het net een koeël weg. Sers. Kellerman het altyd sy verduidelikings aanvaar en is dan self daar weg met sy pakkie in sy motorfiets se sywaentjie. Ewenwel.
Oom Kolie het gesê ’n steenbokboudjie is te klein om te vlek. Daarom is sy biltong sommer so aan die boudbeen berei en daarmee opgehang. Die eerste twee dae is dit net snags uitgehang en die derde dag het dit op die stoep bly hang. So mooi son- en winddroog is hy dan die kombuis se houtstoof se skoorsteen op om dit doer hoog ’n titseltjie koel witgatrook vir sy produk te kry.
Die nuwes het hy juis die oggend daar gaan hang. Vandaar die roetstreep op sy regterwang, vertel hy terwyl hy ’n papierdun skyfie met sy Joseph Rogers sny. Hier teen die westelike hange van die Khomas Hochland was ta’ Lenie se gewildste kwinkslag dat die winter dié jaar op ’n Woensdag geval het. Wintertyd is biltongtyd. Daarom moes sy spring wanneer die Woensdag kom. Juis vir die son en die brommers wat dit op sy strale dra, het sy haar lang beesbiltongstringe in ’n mengsel van asyn en water gedoop voor die eerste aand se uithang.
Dit maak ’n nerfie waardeur die goggas nie kon inkom nie, sê sy. Haar biltonggeheim was dat sy dit hier in die stadium van natdroog in meelsakkies gebind en op die stoep uitgehang het. Wanneer die westewind dan snags sy stryd teen die woestyn wen, gee dit die vereiste klammigheid aan die binneste rooi. Maar dit moes die regte meelsakkies wees, die sakkies met ’n kroonprentjie op. Haar biltonge het sy lank gesny.
“Al is die biltong reg, moet dit nog lank genoeg wees om feitlik met die helfte by ’n boerseun se broeksak uit te steek.” Haar supers was die stukke met die dik stukke geel vet. Geil. “Dis om die are te smeer in die stryd teen cholesterol.” Haar handbyl was altyd byderhand. Die te droë stukke het sy met die agterkant geslaan vir growwe poeierbiltong.
“Dan kom die senings maklik uit.” Dink dié dag lank aan oom Kolie en ta’ Lenie. En ek sê vir die winkelman: “Gee vir my van daai biltong van N$170 per kilogram. Ek koop nie net droë vleis nie, ek koop kultuur.” En ek koop van die liefde waarmee die biltongkonings gewerk het.