Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Kollig 4 September

Motor 29 Augustus

Ongwediva handelskou


Erongo 20 Augustus

Noorderlig 20 Augustus

Ons Argiewe

28.07.08

Vrou staan op uit doodsbed

08.08.08

Presidentseun in boeie

22.07.08

Bloed spat by rugby

30.07.08

Aanval ruk Grootfontein

15.08.08

'n Rokkie wou sy dra, maar o wee...

24.07.2008

Maak 'n paar miljoen dollar kuns van kitsch?


Estelle de Bruyn
SMAAK verskil. Dit is baie waar. Gevolglik is dit nie vreemd dat kinders hulle dikwels doodskaam vir vermeende kitsch wat in hul ouerhuise is nie. Ek het ‘n broertjie dood aan ou Tretchikoff se skilderye en my ma het nie minder nie as drie van sy afdrukke wat sy met groot trots in haar sitkamer vertoon.

Die een is van magnolias, ‘n ander een is van poinsettias en die derde is ‘n angelier wat op ‘n trap lê. Eenkeer, lank terug, wys ek vir ‘n vriendin ‘n foto wat in my ma se sitkamer van my en haar en die kinders geneem is. Sy kyk verby die mense en gesigte en bars uit van die lag. “Ek dog ek is die enigste mens wat ek ken wie se ma ‘n Tretchi in die voorhuis het!

Ek is so bly om uit te vind ek is nie alleen nie!” sê sy ter verduideliking. Daardie ellendige Tretchi’s het my al diep laat skaamkry, maar met die jare het ek geleer om hulle te aanvaar of te ignoreer. Dis immers nie my huis nie en ek hoef nie elke dag in hulle vas te kyk nie.

Maar waar lag my ma toe die laaste. Nou die dag kry ek ‘n brief van haar met twee koerantuitknipsels uit Beeld oor die Sotheby’sveiling waar die afslaer Stephan Welz van Vladimir Tretchikoff se werk onder die hamer gebring het. Haar brief begin: “’Eat your heart out’, my kind! Jy spot mos altyd met my Tretchikoff-afdrukke.”

Ja-nee, die sogenaamde koning van kitsch wat in 1913 in Siberië gebore is en hom na baie omswerwinge in Suid-Afrika gevestig het en in 2006 dood is, was ‘n ander jakkals. In kunskringe het hy min waardering gekry, maar vir die gewone sterflinge was hy koning – al is dit dan die koning van kitsch.

Daar is vooraf verwag dat een van die Tretchjikoff-skilderye, Vrugte van Bali, tussen N$220 000 en N$350 000 op die veiling sou haal. Dit is al klaar rof, maar toe dit uiteindelik vir die asemrowende bedrag van N$3,74 miljoen verkoop is, moes almal weer besin. Dit was selfs meer as wat ‘n skildery van die krities gerekende Suid-Afrikaanse kunstenaar, Irma Stern, op dieselfde veiling kon behaal, naamlik N$2,2 miljoen.

Selfs Tretchikoff-afdrukke verkoop deesdae volgens die koerantberig vir tussen N$2 000 en N$3 000. Wil jy nou meer? Ek verneem ook in die berig dat Tretchikoff een van die eerste kunstenaars was wat afdrukke van sy werk laat maak het, omdat hy van mening was kuns behoort nie net vir die rykes toeganklik te wees nie, maar ook vir mense wat nie duur skilderye kon bekostig nie.

Wat my laat dink aan arme, hartseer Vincent van Gogh, wat in sy leeftyd een skildery verkoop het en vandag erken word vir die genie wat hy was. Wie is ons om te oordeel? Kyk ‘n mens na die prysetiket of die mening van die kenners om te bepaal of iets “goed” of “sleg” is? Beteken die feit dat Tretchikoff so gewild was in sy leeftyd dat die breë publiek nie smaak het nie? Ek sluk swaar aan die snobistiese haarbol in my keel.

Wat het my ooit laat dink dat ek enigsins iets van kuns weet? Dit bly aan die einde van die dag ‘n persoonlike saak, ‘n persoonlike belewenis. Wat vir die een ou so mooi is dat hy trane in sy oë wil kry, laat die volgende ou koud. Wat my aangetrokke laat voel en soveel plesier laat put uit die werk van Adolph Jensch of Fritz Krampe of Francois de Necker of Hercules Viljoen of Trudie Dicks of Norman Catherine, laat die volgende persoon sy kop in ongeloof krap. Nooit weer sal ek my neus optrek vir ‘n ander ou se smaak nie. My mond is toe. My “snob” is dood. Lank leef Tretchi.