|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
6.02.2012 Lekker oor die lippe, vet om die heupe
SOMS gebeur dinge elkeen op sy eie tyd, maar die een beïnvloed die ander algaande. Dan praat mens van toevallighede en die noodlot as die samevloei van omstandighede jou dalk vanweë vorige oortredings op die oor raps.
Laasjaar so in die week voor Kersfees het ’n paar meevallertjies gesorg dat ons in die tydperk tussen die Kersfees- en Nuwejaarvieringe en natuurlik ook die groot dae ingesluit, hopeloos te veel lekkernye in ons huis gehad het. Gevolglik het algar heeltemal te veel en te dikwels gesit en smul. Niemand het juis daaroor gedink dat al hierdie verleidelike peuselhappies net ’n oomblik op die tong vertoef, maar dalk later vir ewig op die heupe sal bly sit nie. Die een ding het toe ook in hierdie geval algaande gelei tot die ander, sodat ons gedurende die eerste week in Januarie agtergekom het daar is nuwe walle om die middellyf waar voorheen dalk net ’n geringe bultjie was. Daarom besluit verskeie van ons oefeninge en dieet is aan die orde van die dag, want Maartmaand is daar ’n troue in die familie en niemand stel belang om op die troufoto’s soos Oom Dik Daan of Tant Sarie Seekoei te lyk nie. Einste omstandighede het egter die tyd so beperk dat ons nie so seker is ons gaan ’n sentimeter of twee afskud voordat ons in ’n uitrusting moet inglip nie. Party ouens is fluks en hulle oefen en stap dat die stof so staan. Ons skep nou sulke klein porsies en dis net groente, vrugte en water wat jy vir jouself opdis. Op my manier probeer ek ook stap en minder eet, maar watwou, daardie mooi tabberd wat ek drie jaar gelede laas aangehad het en ook net dié een keer, se ritssluiter kom nog steeds nie toe nie. Die kuite het net frisser geword. My huismense lag te lekker vir my klagtes, want almal weet dat ek drie jaar se skade nie in twee maande ongedaan sal kry nie. Snags grom my maag soos ’n woedende leeu, want dit verlang vreeslik na ’n groter bord kos. Ek wil darem glad nie graag die dieet van ’n vrugtevlieg volg nie. Verlede week by die haarkapper kry ek toe so met die verloop van ons gesprek die gedagte dat ek veel eerder maar solank na ’n nuwe uitrusting moet soek. Uit sy aard waarsku hy my dadelik om vreeslik versigtig te wees as ek na die aanpaskamers van klerewinkels gaan om klere aan te pas. Hy verduidelik dat die meeste van hulle spieëls teen elkeen van die aanpashokkie se mure het, selfs agter die deur. Al draai jy om en om soos ’n hond wat sy stert jaag, sal jy elke bult van jou figuur uit elke oogpunt aanskou en dalk net met ’n nuwe krakie in jou selfbeeld en minus die uitrusting daar uitstap. Wat my betref, is die uitsoek van ’n uitrusting geen grap nie en daarom het ek besluit om elke keer wat ek moet dorp toe gaan vir iets anders, by die een of ander klerewinkel in te gaan en ietsie aan te pas. Ek was nou al by drie verskillende klerewinkels en in elkeen van hulle wissel die pryse net soveel as hul vermoë om ’n kledingstuk te ontwerp wat versigtig alle figuurfoute verbloem. Al die aanpaskamers vertoon egter aan my dieselfde ongemaklike, ontevrede vrou in die spieël. Nodeloos om hieraan toe te voeg, het ek nog geen uitrusting gevind wat ek bereid is om aan te skaf nie - en die tyd stap aan. Audrey van der Westhuizen |