17.5.2012
 Argiewe:

Vandag se koerant


Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


16 Mei 2012

SUPERMAAN


30 Bruidspare gekies


Suiderland 15 Mei

Kollig 10 Mei

Die Weer


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

2.02.2012

Laat staan jou betieterheid oor die kortgeit!

© Republikein
Boet Matthews
DUIFIE sê hy verstaan nie hoekom so baie dinge weggelaat is in die “manual” wat sy vrou vir hom Krismis laaste jaar gegee het nie. Ek vra watse “manual” en hy sê die Bruidegomboek. “Wat se blêrrie boek is dit?” wil ek weet.

“Dis ’n ‘manual’ wat jou alles leer van hoe om die perfekte bruidegom te wees.” Ek wil hom nog sê ’n man is net vir ’n paar minute ’n bruidegom daar voor die kansel. Daarna is hy net ’n gom. Maar Duifie is klaar op volspoed. “In die Bruidegomboek staat niks van wat om te maak as alles gelyk op jou afkom nie. Daar staat ook niks van Augustuswinde in Januarie en verwers met rammelende blikke rooi verf op die dak nie. Ook nie van voedselvergiftiging ná ’n wegneem-ete nie of ’n steeks kar op ’n Maandagmôre as vroulief amper 85 km ver moet jaag om skool te gaat gee nie. En beslis niks van hoe gemaak as jy ’n kortgat bruidegom is nie.”

Ek siet die gesprek het niks met al die ander tekortkominge in die “manual” te doen nie: Duifie wil eintlik iets sê oor sy lengte. Of die gebrek daaraan. Ek los hom dat hy praat. En dit word ’n láááng gesprek deur ’n kort mannetjie… “My postuur het my in die kleintyd nie eintlik gepla nie. Ons was toe mos almal omtrent ewe groot (of klein). Dis eers toe ek in die groottyd ingaan, dat ek besef het ek is kort, sommer baie kort. Soos die aand by die skooldans toe ’n lang slungel van ’n brunet my gevra het vir ’n dans. Dit was half ongemaklik dat ek haar nie in die oë kon kyk nie, maar toe sy my styf teen haar boesem hou, toe vind ek uit ’n kort outjie het ’n heel anner uitsig op die anatomie van ’n dansende vrou!”

Later by sy eerste werk as verslaggewer het ’n briesende sakeman sy kantoor binnegestorm oor ’n beweerde kwetsende berig van Duifie. Die ou grote het in die deur vasgesteek en geskreeu: “Lyk jy só, jou klein twak? Ek het ’n groot, fris lummel verwag, want jy skryf met soveel spierkrag!” “Nodeloos om te sê, die sakeman is daar uit met groot respek vir my, amper half apologeties. Nog ’n paar groot punte vir die klein mannetjie!”

Duifie sê let maar bietjie op hoe mense elke dag die woord “klein” gebruik om eintlik die woord “groot” te benadruk. Soos “jou klein rakker, “jou klein flerrie,” jou klein bliksem!” “Ja,” sug duifie. “Klein is eintlik groot. ’n Klein mannetjie of vroutjie moet nie met betieterheid staan oor hul kortgeit nie. Wees soos ou hoofman Kapernaum in die Bybel. Sê vir jouself: Ek is iemand met net soveel gesag soos langer mense. Vir die een sê ek gaan, en hy gaan. Vir die ander een sê ek kom, en hy kom. En as die eerste een vir wie jy sê kom, kom en ’n opmerking maak oor die klein mannetjie agter die groot lessenaar, dan onthou jy die profeet Amos. Hy was bang oor ’n verskriklike dreigende onheil en toe pleit hy by die Here en sê: ‘Hoe sal Jakob staande bly? Hy is klein.’ En net daar was die onheil afgewend.”

Duifie sê kort mense kan ook inspirasie en ’n voorbeeld in die diereryk gaan haal. Soos by die kleinste, hardwerkendste diertjies op aarde: miere. Of by ’n miskruier wat sommer duisend keer sy eie liggaamsgewig kan aanrol. En daar is net een bitterklein voëltjie vir wie Oom Krokodil elke dag toelaat om sy vlymskerp tande skoon te maak! “Ek hoef nou nie die simpatieke profeet Amos daarbo te gaat ontmoet nie; daar sal dit in elk geval nie saak maak nie. Maar terwyl ons kortgatte hier op aarde is, moet ons net nooit aan SMS (Small Man Syndrome) ly nie. Die volgende keer as iemand jou ’n dwergie noem, stuur hom na Sneeuwitjie met die opdrag om haar te vra of sy in elke kinderhart verewig sou wees sonder die beroemde Sewe Dwergies?

“Die wagwoord is: klein, maar getrein. Dan maak ons kortgatte sommer korte mette met enige lang slungel of lummel!”