Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Bruidspaarkompetisie in volle swang


Sien fotos hier

Kollig 9 Februarie

Die Weer


Videonuus


Finse universiteit skenk voertuie

Videonuus


Damara Lewende Museum

Videonuus


Die onkruid waai op Nkurenkuru

Advertensie

Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae


Graad 12 Full time & Part time

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

1.03.2010

Kultuur, die lewensbloed wat nasies voed

© Republikein
Francoise Steynberg
KULTUURDIER, kultuurvraat, selfs ’n kultuursnob is ek al genoem.

Kulture en tradisies regoor die wêreld is vir my baie interessant. Hoe mense leef, wat hulle eet, die tale wat hulle praat, hoe hulle dans, wat hulle aantrek en hul geskiedenis. As jy reis, is dit wonderlik om mooi natuurtonele en die pragtige argitektuur van geboue te bewonder, maar op die ou end ná die reis, is dit die mense wat jy ontmoet wat in jou geheue vasgebrand bly.

Op die eiland Ludau, oos van Taiwan, het die Amis-stam my asem weggeslaan met hul musikale talent. Ek het nog nooit sulke mooi stemme gehoor nie. Ek het die pragtige Amis-mense goed leer ken en meer geleer oor die ander 13 erkende inheemse stamme: Atayal, Bunun, Kavalan, Paiwan, Puyuma, Rukai, Saisiyat, Tao, Thao, Tsou, Truku, Sakizaya en Sediq. Net twee van hierdie stamme was glo nie voorheen koppesnellers nie. Daar is nog elf tradisionele stamme in Taiwan wat nie erken word nie.

Ek het hul tradisionele museums besoek en was beïndruk. Ek ken net museums waar jy na prentjies en poppe met tradisionele klere kan kyk. By die tradisionele museums in Taiwan het die stamme in kleurryke tradisionele drag gedans. Een stam se vroue het baie lang hare tot op hul kuite. Dan gooi hulle hul koppe vooroor en vee die vloer met hul lang hare. Ek het nog nooit so ’n dansvorm gesien nie.

Ek het my land se kulture met hulle gedeel. Ek het hulle vertel van onder meer ons San, Namas, Oshiwambo’s en Herero’s. Ek het vir hulle die flieks, Gods must be Crazy I en II, laat kyk. Hulle was versot daarop en het hulle slap gelag.

Verlede naweek ontmoet ek drie ander kultuurdiere op my eerste reis na Damaraland toe ons die lewende museum van die Damaras naby Twyfelfontein besoek het. (Nog iets is afgetiek op my “bucket list”). My kulturele reisgenote is Italianer Gianluca, Duitswester Werner en Oshiwambo- mêmê Claudia. My kultuurkerk se mense.

Ons eie Damaras sit die Taiwannese tradisionele museums ore aan met hul lewende museum. Ons museum is ‘n belewenis! Eerstens is dit in die natuur, ’n opelugmuseum in die koppies. Praat van lewendig en interaksie! Dis nie net tradisionele drag en danse nie, alles van die Damara-kultuur word nie net uitgebeeld nie, maar ervaar. Daar is tot ’n staptog in die bos om meer van hul jagtradisies en die maak van medisyne te leer en jy kan op ’n donkiekarrit gaan.

Dit is die tweede lewende museum waarby Werner en Gianluca van Bush Culture betrokke is. Hulle het reeds ’n San-jagtersmuseum geopen en Claudia gaan betrokke wees by die lewende museum van die Oshiwambo. Werner sê hy het die idee van ’n lewende museum in Denemarke gekry waar hy met sy lang baard as Viking vir museumbesoekers opgetree het. Toe bring hy die idee Namibië toe. Uitstekende idee!

Wat weet ons van die ware Damarakultuur? Kom ons bieg maar: nie veel nie, nè? So leer ek in my eie land by ’n lewende museum meer oor ons ryke kultuur en tradisies. Op ’n interessante manier en met ’n warm en vriendelike verwelkoming van die Damara’s.

Ons vier kultuurdiere is ook natuurliefhebbers. Met ons terugtog wys Werner vir ons die welwitschias, die Verbrande Berg en die Orrelpype. Hy tel verskillende klippies op en skets daarmee tekeninge in verskillende kleure op ’n groot klip. Ons ry vreemde ompaaie terug en sien baie wild.

Die probleem met taal, kultuur en tradisies is dat dit kan uitsterf as dit nie bewaar word nie. Die Indiane, die Abbo’s in Australië, die Maori’s in Nieu-Seeland, die stamme in Taiwan en ons eie San deel almal een hartseer storie: Baie van hulle is Christene, werkloos en alkoholiste. Hoe klop dit? Die draadjie tussen ontwikkeling en die behoud van kultuur is baie dun.

Kom ons koester ons land se kosbare kultuurerfenis.