17.5.2012
 Argiewe:

Vandag se koerant


Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


16 Mei 2012

SUPERMAAN


30 Bruidspare gekies


Suiderland 15 Mei

Kollig 10 Mei

Die Weer


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

3.02.2010

Kletssomme wat ouer ore laat siiing


Dani Booysen
DIE gemiddelde Namibiërs, dis nou as Dapperrerige Daniëltjie se aritmêdjiek korrek is, stuur 24 SMS’e elke dag. Dus: Een vir elke uur op die gesig van die ouderwetse kronograwe wat nog aan party van onse polse hang. En mense stuur net al meer en meer van die blitsrympies, seg die k’rant. Tien komma vier miljard SMS’e in 2009, spog ’n plaaslike belmaatskappy – dubbeld 2008 se vyf miljard.

Dit wil seg 866 666 666,666 spoedtelegramme per maand, as jy nou die laaste getalletjie liewer nie na ’n heiliger sewe afrond nie. Let wel: Ou Dapper skrik glad niks vir enige s-s-s-slang wat ’n aardse ruiter van die apokalêpsperd dalk gewaar in die s-ss- syfers wat sy sompompie uitryg nie! Om die matesistoertjie te voltooi: Gemiddeld 28 miljoen SMS’e woerts elke dag deur dié seltorings (sonder enige “bose” sesse in dié som), oftewel 1,2 miljoen per uur, 20 000 ’n minuut en meer as 300 elke sekond.

Behalwe vir stoute tjênners wat dalk laat wakkerlê om gratis te klets, lyk die uurverspreiding vir ander bellers seker effe verskillend. Waar lê jy? kan elke outjie en vroutjie nou hand in eie sellulêre geheue steek. Vér onder die 24 per dag, moet Daniëltjie bieg. (Waaroor vroulief hom so nu en dan met reg aanpor – want dat dit inderdaad ’n lekker vrymedium is, kan g’n niemand afstry nie.) Dit beteken egter daar is hope ander wat vrekhard SMS om vir ons strammer duime en wysvingers op te maak…

Die wiskundewurmpie se syferdrade oor die “missed call”? Honderd-en-sestien miljoen in die vorige jaar, seg dieselfde operateur. Met ander woorde: 100 per beller, bereken op ongeveer 1,2 miljoen mense met ’n sel aan die gordel, in die broek- en hempsak of om die nek, soos sommige daarvan hou. Die middelmoot beller laat weet derhalwe so een keer elke derde of vierde dag ’n ander ou dat hy nie self kan trieng nie.

Teen omtrent een uit elke 100 SMS’e nie te kwaai vir diegene wat maklik opstrepperis raak oor die gebiepbiepbiep nie – hoewel sekerlik net ’n klein groepie verantwoordelik is vir die grootste deel van die skakel-terug-verkeer. Wat dalk eerder daais bekommerd moet maak wat trippelsesse jag in al wat ’n strepies- en ander kode is, is dat Kersdag se SMS-syfer maar net gelyk aan die jaarlikse daggemiddeld was?

Anders as Oujaarsdag se skuins duskant twee keer soveel 46,7 miljoen (byna 2 000 000 per uur, 30 000 ’n minuut en oor die 500 per sekond)… Selfs Nuwejaarsdag se woordpossake was beter as Okresmêsa s’n. (Dat daar glo absoluut nêrens ’n geselsknoop was nie, vat Dapper maar braafweg met net so ’n knippie SMS-sout.)

Tie-die-die-diet, kwetter die lankal oudedoos Saamsing-model hier links op die lessenaar. Brommm… ’n “Missed call.” Van die tienermeisies af. Waar is tog die dae toe mens nie op die netwerk hóéf te gewees het nie? En selfs ’n tuislandlyn ’n luukse was.

Is dit oor hierdie knaende, kriptiese gewoertswarts- klets, wonder hierdie voormalige taalonnie in sy hart, dat die groen koring so sôkkel met keurige taal en oortuigende argument? Terug na die draadloos en bib! sug pappa Daan dromerig as hy sien hoe die driejarige Ben sy Spaaiderman-“made-in- China”-foontjie se klappie oopswaai en al wat ’n nuwerwetse deuntjie is uit die ding se pens loskielie... Dani Booysen