
Des Erasmus
IN ‘n gemakstoel in die leefkamer word die verloop van verskeie groot sportbyeenkomste Saterdag gevolg. Dit verdryf kommer dat die tuinman daarbuite moontlik plantemoord pleeg. Vir ‘n sportverskrikte koerantman laat die wonder van die tegnologie die bitterheid van die telbord wyk. Australië, Engeland, Duitsland.
Die lande is sommer hier in die voorhuis. Blaas die eindfluitjie of word die balkies gelig, gaan na die huiskantoortjie verskuif word. Die nuuskanale gaan gevolg word en saam met die blitsbulletins van die kassie gaan dit die wêreld op hierdie oomblik word.
Die Bokke het verloor, in Engeland gaan dit nie te sleg met die Proteas nie, in gholf het ‘n man uit die verlede opgestaan en in Duitsland brul die renmotors. Teen die tyd wat dorp toe gery word, is die pil (bitter of soet) in. So kry die tegnologie die oorhand oor beswaarde denke. Dertig, veertig, vyftig jaar gelede was dit nie so maklik nie.
Kommunikasie het die wonder van die afgelope halfeeu geword. Net die liefde vir sport het dieselfde gebly. In seunsjare was dit al daar. So was daar doer in die jare vyftig al op die modderskerm van ‘n Case-trekker ‘n staanplekkie vir ‘n radio gesweis.
Op vasgestelde tye is die ploeëry net vir ‘n wyle gestaak, want dan is op ‘n krakerige kortgolf oorgeskakel na die toetsterrein. Oordonder ‘n fluitery of ander steurings die uitsending, was daar nog altyd hoop dat dit die aand beter sou gaan wanneer die opsommings oor die eter gaan kom. Of laat op ‘n Saterdagaand kon stasie toe gery word vir die aandkoerant uit die Baai.
Daar sou ‘n uitslag of twee gekry kon word. Ek weet nie meer wie vir wie in watter prent geskiet het nie, maar die byderwetse veldflieks van destyds word vir African Mirror met hul sportinsette onthou. ‘n Volle 15 minute van drie weke gelede se toetswedstryd gaan vertoon word.
Net swart en wit. En gedra die fliekgangers hulle sonder ‘n onnodige geflikker van hoofligte op die groot skerm, wys die fliekman die opsomming dalk weer na die einde van die hoofprent. Boeta, ons was daar. Soet soos muise. Vandag word die verloop van wedstryde op die sekond in volkleur gevolg. Moderne toerusting, met funksies soos die halt van die uitsending, ‘n terugdraai van die beeld en ‘n baie stadige vertoning waarin die skeidsregter se beslissing veroordeel of geloof kan word.
Verslaggewers is danksy die rekenaartegnologie op feitlik elke plek in die land in regstreekse verbinding met hul groot redaksiesale. Foto’s word uit die uithoeke oorgesein hoofkantoor toe. En dit nadat dit nog ‘n voorbladstorie was toe ‘n verslag oor ‘n rugbywedstryd in die stadion in die vroeë jare tagtig vir die eerste keer op ‘n drarekenaar geskryf is en die “stiffie” met ‘n stuurjonge kantoor toe gestuur is.
Eens was dit anders. Die eerste aandoenplek in landelike dorpe was die poskantoor. Kennis moes met die teleksoperateur gemaak word. Afsprake is gemaak vir die oorsein van kopie aan die einde van die staatshoof se toespraak. Sommetjies is gemaak oor wat sy oortyd gaan kos en wanneer ingeloer kon word om te hoor of alles deur is.
Die teleksman was die verslaggewer se held. By vulstasies en langs die pad is reisigers voorgestaan met ‘n gepleit of hy nie asseblief jou films sal saamry Windhoek toe nie. Soms was dit sommer ‘n bondel wat aan ‘n hoender se weglênes herinner het.
Alles swart en wit, want as kleurskeidings gedoen kon word, sou dit peperduur wees. Vir die deurlees van verslae is telefoonoproepe vir ‘n vaste tyd bespreek. Dit het meer gekos, maar was taamlik gewis anders kon daar ure gewag word voordat die handsentrale deurgekom het. Daar was ook oproepe Johannesburg toe, maar dan is een van die een of twee landlyne bespreek.
Die radiokanale het ‘n gesukkel afgegee met die gebruiklike steurings. In die uithoeke was radioverbinding via die telefoon al oplossing. “Dit is Des op Terracebaai … Dit is Des op Terracebaai … Kan jy my hoor … Kan jy my hoor? Oor”. Toe word onthou “oor en uit” vir die vrotsige uitslae van die naweek.