
Dani Booysen
HOOR ek iewers: “Vernon wie?” Nee man, kan mossie wesie. Jy maak seker ‘n grap! Is daar dan nog enigeen wat steeds nie daai gespierde ou met die dik, goue ketting om sy nek en die moulose, geruite hempie wat hy hier bo-oor sy “six pack” vasknoop iewers – altoos glasieinnie- hand – saam met hierdie ou wêreld se heel beroemdstes en naby sy heel bekendste landmerke sien rondstaan het nie?
Mnr. Koekemoer, ja, is waarskynlik vir altoos tot in die hartjie van Africana in ge-Photoshop. Of dan minstens die annale van kitsch, sal ander seker brom. Omtrent al waar ons hom nie noggie gewaar het nie, is langs die blykbaar al eensamer Ruiter hier naby Windhoek se selfs spierder wit koloniale fort?
Of miskien by Heldeakker? Maar wag, laat ons nie onnodiglik gedagtes vir anonieme vonkveldtogte hier pos nie… Wonder ou Dapperrerige Daniëltjie nou al lank: Net hoe sal ‘n Namibiese weergawe van hierdie kitsster lyk? Veel anders as Suid-Afrika se nuwe Chuck Norris? Oeps! Askies fêns. Vernon, verstaan die uwe uit sekere oorde, is glo ‘n veel taaier rateltjie as Chuck.
En hoe dan nou anders. In ‘n land met soveel meer dinge as hier wat te veel mense dalk met spieren wapenkrag wil reg klop? Heel eerste sal ons seker moet begin gis oor net waar in hierdie uitgestrekte land ons ons eige Cassie, oftewel CJ Booyse, sal gaan soek. “Hoesegoet nou weer?”
Dis nou Vernon se regte naam, man. ‘n Kêrel oorspronklik van Brakpan en deesdae van Benoni, as jy nog nie kans gehad het om te gaan navors nie. En nee, sou jy dalk snuf in die neus kry – g’n familie van Dapper nie, al is daar net die een “n” soek tussen onse twee se vanne… Dalk daar op Kamanjab gaat loer? In Khomasdal miskien. By die Herero Mall? Liewer daar by onse mense in die Rehoboth.
Of op Lüderitz, in Walvisbaai, Oshêkity, of daar dour, net duskant Angola, in Oshikango? Of is ons land eenvoudig heeltemal te klein vir dié soort tong-innie- kies, saamgiggel, sout-vannieaarde superheld? Miskien dan TV-oudisies, met ‘n paar groot borge wat ietsie las in die wedywering om die titel van ons eie hoofletter OU. Met SMSnommers selfs, sodat mense vir hul gunsteling kan stem.
Wat ons in sy altyd besige hand gaan stop? ‘n Tafel, Windhoek, omahere, Oshikanderatjie, of lesbes ‘n sopie Kaalgat. Mmm – kies maar jou eie dop, nes met ‘n oorspronklik noemnaam en van, wat ons ewe broodnodig gaan hê. En onse Koekies se kostuum? Nou daar is vir jou nog ‘n turksvy. Miskien minus die blieng. Of met baie meer. In silwer, goud, of dalkies brons.
Sonder die kortbroek. En verkieslik ander skoeisel as platvormoefenskoene. G’n man, reken ou Dapper, gaan ver in die seesand, die Namib se duine of ‘n spierwit shona kom met daai goed aan sy voete nie. Oor die ouderdomsperk: Kyk, jy kan nie sommer ‘n snuiter vat nie.
Aikôna, enige Vernie moet darem al ‘n goeie dosis van hierdie lewe se bitterder kasterolie agter die blad hê, of hoe? Cassie, sal jy dalk nie maklik raai nie, is al oor die 50. So as ons onse super-OU net so ‘n aks jonger maak, gaan hy ‘n goeie ruk langer deur lief en leed saam met ons kan rondhang? Hopelik, en met alle apologie aan die doodnederige mnr. Booyse, skribbel Daniëltjie in die geheim op sy wenslysie, kry ons iemand heeltemal anderste as ons bure se stil-sterk spierbal.
‘n Man wat darem ook ‘n bietjie kan praat, eerder as om sommer net so doodstil oral vir kwaadgeld rond te staan… Photoshop, weet Dapper, het ôk mos ‘n kwas waarmee popartieste sulke ou woordvenstertjies en gedagterokies kan prakseer.
Want makie saak hoe onse Verns se buitenste jas lyk nie, en of hy nou in stede van ‘n glasie windpompsjerrie of ‘n sawwelyf aan ietsie sterker wil teug nie – met ‘n OU wat al die skewe dinge hier so bietjie reguiter kan help gesels, kan ons sommer vrek goed doen!