Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Kollig 4 September

Motor 29 Augustus

Ongwediva handelskou


Erongo 20 Augustus

Noorderlig 20 Augustus

Ons Argiewe

28.07.08

Vrou staan op uit doodsbed

08.08.08

Presidentseun in boeie

22.07.08

Bloed spat by rugby

30.07.08

Aanval ruk Grootfontein

15.08.08

'n Rokkie wou sy dra, maar o wee...

14.07.2008

Hierdie speletjie begin nou ernstig raak


Errol Hurter
LIEFHEBBERS van diere, lede van die Wêreld Wildlewefonds en die Dierebeskermingsvereniging moet na wat hier geskryf staan, nie môre met plakkate in die straat voor die huis in ‘n sirkel kom stap en slagspreuke skree nie, maar nou word oorlog teen die pes in my lewe verklaar.

Dis teen daardie grys muis wat hom in my lapa kom tuismaak het. Twee Saterdae gelede het die Blou Bulle die Sharks ‘n les geleer wat groter sou gewees het as die TV-skeidsregter die uit-en-uit-drie van Danie Rossouw toegeken het. Al wat hy gevra was, was om aan te dui of die drie toegeken kan word.

Toe sit die kêrel seker en dink wag, terwyl ek nou die geleentheid het om oor die lug te praat en die hele Suid-Afrika en Namibië my hoor, moet ek die tyd gebruik en hy gaan haal ‘n fout wat kwansuis plaasgevind het na die lynstaan wat Rossouw se drie voorafgegaan het om die Bulle te straf.

Ek aanvaar daar is ‘n skool vir skeidsregters en hy en die skeidsregter wat die fluitjie hanteer het, moet teruggaan soontoe. Ek hoop André Watson maak ‘n plan met beide die manne. Maar dit net ter inleiding en dierevriende moet asseblief nie dink dat ek ook ‘n haaihater is nie. Waarom ek na die wedstryd verwys, is omdat my grys “vriendjie” kom kuier het toe die wedstryd op sy spannendste was.

Ek het die rugby in die lapa gekyk toe ‘n beweging op een van die dwarspale na die nok van die dak my oog vang. Wie anders kon dit wees as die klein pes, want muise dra pes en ander snaakse kwale wat vir die mens onaangenaam is. Hy het rustig op die balk gesit en my stip in die oë gestaar.

As ek ‘n bietjie verbeelding gebruik, sal ek sê hy het so half en half met ‘n grynslag op sy gevreet daar gesit en op my afgekyk. En hy is groot, maak nie ‘n fout nie. Ons het mekaar so ‘n wyle in die oë gekyk terwyl ek gewonder het wat my te doen staan om finaal van hom ontslae te raak.

Ek het sulke blou pilletjies wat glo muis en rot se tier is, maar kollega Christo het gewaarsku dat ‘n muis nie ‘n blou duit daarvoor omgee nie. Hulle vreet die goed asof dit Smarties is en los net sulke blou mis agter as ‘n blyk van dank. Die geheim sê hy, is water. Hulle moet water saam met die pille inkry anders werk dit nie. Ek is geneig om met hom saam te stem, want die klein pes het al van die pille gevreet sonder dat ek hom water gegee het om sy spysvertering aan te help, want daar sit hy hoog en droog bo in die lapa se dak en lag vir my.

Die probleem is dat al die ligte se elektriese kabels en die TV se antenna- en kragkabel onder die nok geleë is. As hy dit nou in sy kop kry om daaraan te begin knaag, is dit nag, want om daardie elektriese drade te vervang of selfs net te las, is nie sommer só ‘n werkie nie. Die skade-potensiaal word al groter hoe langer ek daaraan dink. “Off with his head” soos in die Middeleeue geskree was, is al wat gaan help.

Ek het ‘n Daisy-windbuks wat vir een van die seuns gekoop was, maar hulle was seker nie so ingestel om te skiet nie en die ding lê in die huis. Ek gaan haal dit. Toe ek terugkom, sit hy steeds op die balk en kyk wat hier onder op die grond aan die gang is. Die windbuks word oorgehaal, daar word gekorrel en die skoot klap.

Diereliefhebbers sal seker bly wees om te lees dat dit mis was. Hy is met die balk op tot bo en verdwyn in ‘n opening waarin hy hom die afgelope maande seker maar tuisgemaak het. En ek sit daar met die spreekwoordelike rooi gesig. Nie weens ‘n slegte gewete nie, maar omdat ek so swak geskiet het.

Ek het al gaan soek vir ‘n muisval, maar kon nêrens een kry nie en ek weet nie of dit nog gemaak word nie. Die blou pilletjies help nie en die windbuks ook nie. Jean by die haarsalon sê ek moet ‘n kat kry, maar dan is dit nog ‘n dier wat benewens die visse en voëls moet kos kry en versorg word. Ek weet nie of ek daarvoor kans sien nie. Gene Travers het ‘n vriend met ‘n jong, mak luislang, maar ek sien ook nie kans vir ‘n luislang in die lapa nie.

Ek gaan haal die pakkie pille en lees die gebruiksaanwysings. Daarvolgens moet jy die hele pakkie op ‘n plek neersit waar die knaagdier dit kan bykom en dit daar los. Wanneer die voorraad in die pakkie nie meer daal nie, moet jy weet die pille het óf gewerk óf die muis het verhuis.

Nie ’n baie bevredigende oplossing nie, maar as ‘n man begin desperaat raak, tref jy desperate maatreëls. Nou staan die pakkie blou pille, daar, oopgemaak, met ‘n bakkie water langsaan en hy kan vreet soveel as wat hy kan inkry. Ek weet nie wie hierdie ronde gaan wen nie, maar ek weet wat die diereliefhebbers dink. Sal maar sien.