17.5.2012
 Argiewe:

Vandag se koerant


Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


16 Mei 2012

SUPERMAAN


30 Bruidspare gekies


Suiderland 15 Mei

Kollig 10 Mei

Die Weer


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

6.09.2010

Haar blaf was ongetwyfeld groter as haar byt

© Republikein
Francoise Steynberg
“DOGTERS van WHS!” het haar bulderende stem oor Windhoek Hoërskool se skoolgronde weergalm. Ons was almal so bang soos die duiwel vir ’n slypsteen vir haar. Sy was streng verby. Ons boksterte het gebewe as ons verby haar stap. Een keer per week het sy inspeksie vir netheid gehou. Naels moes kortgeknip wees. Kuiwe moes uit die oë wees.

Onthou, in die tagtigs was lang kuiwe hoogmode! As jou hare aan jou kraag raak, moet dit vasgemaak word. Die twee reëls het ek altyd oortree. Jou hare mag nie ge-“perm” of gekleur wees nie. Jou hare mag nie met enige ding vasgemaak wees nie, net met ’n blou bolletjie of rekkie.

Jou kuif mag net met twee soorte knippies vasgesteek wees en jy mag ook net twee soorte oorbelle in jou ore gedra het, ringetjies en rondetjies. Jy mag ook net een gaatjie in elke oorlob gehad het. Jou skoene moes blink gepoets wees, jou sokkies spierwit en ’n sekere hoeveelheid sentimeters breed gevou. Ons mag ook net ’n sekere soort veterskoene gedra het.

Die lengte van jou skoolrok was ook baie belangrik. Minirokke was uit. As jy op jou knieë gestaan het, moes jou rok se soom presies vier vingers bo jou knieë gehang het. As jou trui met jou kniekoppe groot uitgerek was, was jy in groot moeilikheid.

As ’n dogter ’n uitgerekte trui gedra het, was vermoed dat sy dalk swanger kon wees en dit agter die groot trui probeer wegsteek het. Jy moes fier en regop stap en geen geboë skouers was geduld nie. Borrelgom en grimering was ewe verbode.

Iewers in my senior skooljare is op die eerste dag van die nuwe skooljaar aangekondig dat sy my nuwe Afrikaanse onderwyseres en boonop my klasonderwyseres is. Ek het gedink ek gaan daardie jaar nooit oorleef nie.

Tot my verbasing was dit toe glad nie erg nie, inteendeel sy het een van my gunsteling onderwyseresse geword met haar interessante klasse. My punte vir Afrikaans het ewe skielik die hoogte in geskiet. Maar versigtig was ek beslis steeds baie versigtig vir haar, net nie meer so bibberbang nie.

My paaie het onlangs weer met hare gekruis. Haar man, ook ’n legende in onderwyskringe en weer onder die seuns gevrees vir sy latswaai, is oorlede en ek moes ’n huldeblyk-artikel oor hom skryf. Die geskiedenis herhaal hom en ek ervaar presies dieselfde emosies as dekades terug op skool.

My vingers bewe toe ek haar telefoonnommer skakel. My keel is droog. Gelukkig tel die huishulp die telefoon op. Later moes ek weer skakel en haar seun antwoord. Ek moes weer skakel vir meer inligting. Met elke oproep gaan ek aan’t bewe. Haar seun tel weer op, maar hy sê ek moet met haar gesels vir meer inligting. Ek snak na my asem en kry ’n knop in my keel van vrees.

“Hallo Francoise, hoe gaan dit met jou. Ja natuurlik onthou ek jou. Ek lees al jou artikels,” gesels sy vriendelik oor die telefoon.

Ek kan dit nie glo nie. Hoe kan sy my, wat maar eintlik ’n valetjie en ’n semi-sluiper op skool was, na al die jare onthou? Sy gesels land en sand en ek ontspan mettertyd soos ek in haar Afrikaanse klasse ontspan het. Nadat my artikel oor haar man verskyn het, bel sy my en bedank my. Eintlik moet ek haar bedank.

As dit nie vir haar goeie Afrikaanse onderrig was nie, sou ek nie vandag ’n Afrikaanse joernalis gewees het nie. Mevrou Joey Dreyer, al ons dogters van WHS, bang of nie bang nie, sê vandag baie dankie vir die grondslag van dissipline en liefde vir Afrikaans wat jy vir ons gelê het. ”Boelina” is eintlik ’n “darling”.