|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
8.02.2010 Groot pret – en almal het iets geleer
MENS is nooit te oud om te leer nie. Vroeg verlede week het ek met gesoute joernaliste van Suid-Afrika skouers geskuur. Groot name in die joernalistieke bedryf soos onder andere David Bullard van Sunday Times, Egmont Sippel van Rapport en ’n 74-jarige oom van ’n radiostasie. Terselfdertyd moes ek na die romantiese aksente van die Franse taal van Peugeot se groot base luister.
Later die week moes ek probeer hond haaraf maak van ingewikkelde, tegniese terme van slim, perfeksionistiese Duitse ingenieurs op Ohorongo Cement se daknatmaakseremonie. As ek so tussen hierdie klomp slim mense beweeg, voel ek soos ’n klein vissie in ’n groot dam. Maar ek voel ook baie bevoorreg, want ek kan baie by die slim mense leer. Ek het nog al tyd ’n groot dors na kennis gehad en een van my leuses in die lewe is “kennis is mag”. Ek is verbaas om te sien hoeveel jong mense deesdae so selfvoldaan is en hulle so slim hou. “Ai kinders,” dink ek by myself, “klim af van jul troontjie en leer tog net. Maak oop jul oë en ore, haal af daai oogklappe en verbreed jul horisonne.” Nog iets wat ek met tyd geleer het, is as jy nie weet nie of iets nie verstaan nie, vra. Mense dink nie jy is dom as jy vrae vra nie. Ek vra vir Egmont Sippel oor die ingewikkelde tegniese motorterme in Afrikaans. Hy help graag en nou weet ek ook dat “torque” wringkrag beteken. Ek het vroeg verlede week die nuwe Peugeot 3008 in die Kalahari gaan toetsbestuur. Dis die eerste keer in my lewe wat ek so iets doen. Al die ander joernaliste is ervare motorskrywers wat al duisende motors toetsbestuur het en dan wonderlike artikels oor die motors skryf. Hulle praat oor die Dakar-tydren, kronkel met Ferrari’s in Italiaanse dorpies, toets sportmotors in Spanje en jaag met ’n Mercedes Benz op die Duitse Autobahn. Ek het nog nooit ’n artikel oor ’n motor geskryf nie. Ek het ’n paar maande gelede nog twee motors op my naam gehad, een in Taiwan en een in Suid-Afrika en het albei vir ’n appel en ’n ei verkoop. Nou besit ek nie eens ’n motor nie. Ek klim toe in daai oulike Peugeot 3008 saam met David Bullard en ’n grootkop van Peugeot. Eers is dit my beurt om te navigeer. Ek het ook nog nooit in my lewe genavigeer nie. Nog iets om te leer. Dit is uiteindelik my beurt om te bestuur. “Maak vas jul sitplekgordels, manne! Nou gaan julle saam met ’n wilde dogter van Namibië ons woestyn leer ken.” Ek trap die pedaal diep in en ek laat waai op ons mooi grondpaaie. Hulle is beïndruk met my bestuursvernuf en sê ons grondpaaie is baie beter as Suid-Afrika se teerpaaie. Ek wissel tussen die Peugeot se ses ratte en intussen speel ek sommer toergids. “Kyk die groot versamelneste, die miershope, die geel doringblommetjies wat net blom in die reëntyd, oppas vir die donkiekarre.” Hulle ken nie duine nie en noem hulle heuwels. “Dis ’n duin en tussenin is ’n straat,” verduidelik ek. Later doen ons ’n wildbesigtigingsrit en hulle “oe” en ”aa” as ek hulle meer vertel van ons land se wilde diere. Ons geniet aandete op ’n duin met die son wat oranje sak en die maan wat later spookagtig stadig oor die duin opkom. Die Boesmans vertel vir ons in hul klaptonge dierestories. Die Franse is in vervoering. Ek vertel hulle meer van ons diverse kultuur en bevolking wat almal in vrede saamleef. Ek voel nie meer so dom en soos ’n klein vissie nie. Ek het baie by al die slim mense geleer. Hulle het baie by my van ons land geleer. Ek is versot op die Peugeot 3008 en hulle op Namibië. |