|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
1.02.2012 Geen plan sal werk as ’n land hom nie wil uitvoer nie
“ VERLANG jy nie na die onderwys nie?” ’n Vraag waarteen baie oudonderwysers hul gereeld vasloop en een wat by ou Dapperrerige Daniëltjie dieselfde beneuktheid veroorsaak as wanneer oudleerlinge wat lankal grootmense met kinders is jou voor en agter aanhou “meneer”.
Keuse van baantjies en aanspreekvorme daargelaat, roep die uitsonderlike skrywe van mnr. Hashagen hierbo glashelder ’n edele wêreld op wat immer deel van die uwe se leefgereedskap sal bly: Dieselfde paadjie wat die Ford amper agt jaar douvoordag skool toe moes afdraf, die personeelvergaderings, die kletsery met die kinders op die stoep voor die klas, die gerusstelling van die soms minder en ander kere meer dralende “môre meneer”, die poetse wat elke onnie so af en toe met ’n rooi gesig moet laat saam lag. Die beloning van belangstelling en vordering, ouers wat saamwerk en omgee, kollegas se ondersteuning en kameraderie. Nou nie in die sin van die “comradeship” waarvan mens al te dikwels op die verkeerde maniere hoor en lees nie. Die buitemuurs wat jou moeg getap het wanneer daar sawens nog nasienwerk ook wag. Maar tog was en is dié “sport en konsert” vir leerling en onderwyser ’n ewe belangrike, bykomende besieling. Sodra jy jou teen die onvermydelike negatiewe begin blindstaar, rem jy in die onderwys – soos enige ander beroep – elke kans op groei en verbetering? Groot geeste soos die skrywer hierbo is daar aan alle kante van die dorp. En in baie uithoekies van die land. En hoe belangrik is dit nie dat juis hulle die kompas help rig nie. Dapper vergeet nooit die opgewonde verslag van ’n groot indoena by hoofkantoor dat hy by sogenaamde boomskole diep in die landelike gebiede onderwysers teëgekom het wat baie eweknieë in stad en op dorp – sonder ’n grênd skool se hulpmiddels en geriewe – behoorlik op hul baadjies sal laat kyk. En dan is daar diegene wat beweer sulke skole word voorgetrek. Gmpf... ’n Blou, plaaslike weekblad vertel Maandag tot die groot skok van derduisende ouers, onderwysers en leerlinge dat die Regering in die nuwe boekjaar net N$180 miljoen van die eerste N$1,1 miljard kan bewillig wat die Ministerie van Onderwys gevra het om met die toepassing van besluite deur verlede jaar se groot onderwysindaba te begin. Onderwys wou volgens die berig ’n ekstra N$5 miljard oor vier jaar hê. Glad nie soveel geld as ’n mens in ag neem dat die opvoedingstelsel die fondament van die hele Namibië se toekoms is nie. As ons N$3 miljard vir ’n dam in die Suide het, hoekom nie so effentjies meer vir die om wie alle ontwikkeling draai nie? En dan het ’n ou nog nie eens die sompompie nadergetrek om die geld vir ander, minder noodsaaklike projekte bymekaar te tel nie. Los daai en belê liefs waar dit later groter saak gaan maak? Of is sulke wensdenkery plebpolitiek? Wat help dit ons het soveel geld bestee om ’n nuwe plan te maak en die kabinet keur dit goed, maar ons wil dit teen ’n vyfde van die noodsaaklik dringende pas uitvoer. 2032 hier kom ons, sonder om vir enige haakplek voorsiening te maak... Dapper sal nog meer as vir homself veral vir behoeftige medeburgers die grondwetlike waarborg op gratis laerskoolonderwys wil sien realiseer – sonder die rompslomp om eers te bewys dat jy arm is. Maar sonder baie bykomende dollars in die onderwysbegroting is dit niks anders as volstruispolitiek nie. Dan maar liefs andersom werk en die Grondwet wysig om skoolfonds te wettig? Tyd en wyl bly die kort en lank van die saak: As dit belangrik genoeg is vir hom, sal Jan Alleman soos aan die keiser ook sy bydrae tot die skool maak. Hoop jy sterk gou aan, dok Abraham. Hef aan lê voor! |