Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Suiderland 07 Oktober

Kollig 2 Oktober

Windhoek skou

Motor 26 September

Noorderlig 23 September

Ons Argiewe

03.10.08

Walglike toestand in rykmansbuurt

02.10.08

Khomas-grote haal rekordboek

02.10.08

Twee gesinne in rou ná fratsongelukke op hul werf

01.10.08

Wittebroodsnag in selle

01.10.08

Harry Simon op sy knieë

23.07.2008

Geen brug te ver vir gewillige ruiter en perd


Dani Booysen
MOET hy trek of moet hy bly? Só sou die Clash seker gerock het. Of laat ou Dapperrerige Daniëltjie met iets veel nader aan eie tuiste uitdaag: “Oooou ryperd, ons ry die pad tesame. “Ou ryperd, so deeeeur’ie lewensbane. “En wanneer jou rydag oor is, gaan jou ou lyf lekker rus.

“Jyyyy, ou ryperd van my…” Opvallend hoe daar nie regtig ‘n vurige debat losgebars het toe daai horde wit kruise nou onlangs aan die voete van Windhoek se Reiterdenkmal opskiet nie? Minstens g’n egte, nasionale gesprek oor Namibië se kultuurerfenis nie.

Bloot ‘n minister wat (heeltemal onnodig?) walgooi teen ‘n paar flou stemme van protes (wat nie veel gaan vermag nie?), terwyl kundiges, argitekte en ander slimkoppe vir die behoud van die artistieke samehang van ‘n eeue-oue prentjie in ons middestad pleit. Wat Jan en San Alleman dink? As die kwessie ooit in ons klapperdoppe roer, sal neerkykende lede van die intelligensia miskien skoor.

– Ewe duister as wat seker in die kop van oorle’ onkel Adolf Kürle se immerwakker ruiter moes draai toe die grafte ‘n eeu later sommer hier reg onder die neuse van al die President se poeliesmanne in die maanlig rondom sy voetstuk beginne oopgaan? En die arme, naamlose koloniale troep kan nie eens sy nek draai om behoorlik te bespied van waar hy bedreig word nie!

Probeer bietjie self jou oë in hul kaste rol terwyl jou kop tjoepstil staan… Uitgelewer, dié kavalris, om vir ewig noordwaarts na imperiale Duitsland vir ‘n antwoord te kyk – van waar daar beslis g’n sprak gesprook sal worde nie. Nee wat, seg Dapper, hierdie ding sal ons in ons eie, Namibiese reënbooghart moet uitsorteer, wat soos die verlede wys juis waenhuiswyd oop vir die vrede staan. 1) Dis mossie of ons die Ruiter gaan verloor nie.

Sover die uwe verstaan, gaan hy net so ‘n entjie in Mugabe-rylaan af galop. “Jippie jippie jip, jippie jippie jip…” Wie weet, dalk sien hy vrek baie uit daarna. Om dinge na al klaar ‘n hele 96 jaar vir die eerste keer uit so ‘n effense ander hoek te beloer. En weer ‘n slag minstens so effens litte te roer ná doerie tyd se bykans vergete avontuur om dit al die pad uit Berlyn, vir maande op ‘n skip, en toe vanaf Swakopmund oor die nou spoor ongeskonde tot in die hartjie van Duitswes te maak.

Hoe sou jý in elk geval daarvan gehou het om vanaf 27 Januarie 1912 al soutpilaar te speel? 2) Vir diegene wat bevrees is dat die loop van sy sanna, of miskien iets veel erger, dalk kan afbreek met hierdie kort entjie se hardloop: Goeie toesighouers, seg Daantjie, het hul hulp sáám met hul sorge aangebied. 3) In elk geval is die plan om die ruiter lappesaait te skuif vir ‘n ander monument al stokoud. En nou eers hoor ons ineens die jakkals tjank?

Miskien is die stryd om monumente sonder ampstatus veilig in die wetskraal te kry veel belangriker as slegte voorbodes oor die reeds beskermde ruiter se lot. Soos Rehoboth se al yler kameelwoud, die Spitzkoppe, Sossus se duine, die Bogenfels doer naby Lüderitz, die noorde se kremetartreuse… En selfs die Alte Feste, wat steeds sonder ‘n proklamasie moet klaarkom. 4) Dalk is die grootste probleem liewer dat gewone agterryers soos ons nie weet presies na watter nooientjie se plaas die Regering op pad is nie.

En selfs erger, miskien nie voor die tyd gaan aandring om te weet nie. “Jaag maar aan ou maat, en dra my op jou lekker ou rug?” Aikôna. Tog is dit nog heeltemal te vroeg om die karwats blindweg uit sy skede te ruk? Omdat die geskiedenis, wil ou Dapper minstens glo, by uitstek juis vloeibaar genoeg is om saam-saam oor hierdie brug te kom.

Tot by die proviand, voer en rus – vir beide ruiter en perd. Vir die “nuwe,” wat dikwels baie vinniger as wat ons vrees die lyf van ‘n ou bekende kry, het hierdie Daantjie soos die einste ruiter g’n bang haar op die kop nie. Mits hy met oop oë en ‘n nek wat kan beweeg, mag sien wat kom. So eenvoudig soos dit. Sê egter maar net dié kavalris se huis val ook nog hier reg agter hom plat? Dán gaan, en stem selfs Dapper saam, daar eenvoudig net grootgroot perde wees.