|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 2 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Videonuus Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
8.03.2010 Foefieslaaid vrolik deur die lewe
DIE Lang Generaal hou van datums. Hy teken alle belangrike gebeurtenisse in sy dagboek aan. Hy laat mense op sekere datums vermoor of “uitvat” sodat dit saamval met ’n sekere geskiedkundige gebeurtenis. Die Lang Generaal hou van geskiedenis. My slaap word weer ingeboet weens die boek van Alan D. Elsdon, Die Lang Generaal, wat ek nie kan neersit nie.
Die boek vertel van ’n skrikbewind wat besaai was van politieke moorde in een man se fanatieke oorlog. Generaal Lang Hendrik van den Bergh was vir baie mense die mees gevreesde man van die ou Suid-Afrika en die hoof van die Buro vir Staatsveiligheid. Volgens die boek sou Die Lang Generaal betrokke kon gewees het by die sluipmoord op dr. HF Verwoerd, die dood van dr. Nic Diederichs, Steve Biko en prof. Johan Heyns, asook die moord op ons eie Anton Lubowski. Ek is pateties met syfers en wiskunde, maar ’n belangrike datum vergeet ek nie. Ek is ook versot op geskiedenis. Dis hoekom ek daarvan hou om boeke te lees soos Die Lang Generaal, wat gebaseer is op geskiedkundige feite. Ek onthou al die belangrike datums in die geskiedenis en in my lewe. So was daar twee belangrike datums in my lewe verlede week: 1 Maart en 6 Maart. En dit was tyd om te vier, tyd om te herdenk. ’n Belangrike datum, net soos ‘n verjaardag, moet herdenk word, anders word dit vergeet. Op 31 Maart 1999 was ek in ’n motor op pad na die grenspos op Noordoewer. Die son se strale het net begin opkom en die Namibiese volkslied, Namibia, Land of the Brave, het oor die motorradio gespeel. Ek het geweet dis die laaste keer wat ek saam met ons volkslied kon sing. Maar ek kon nie saamsing nie, ek het verskriklik gehuil. Ek het ’n nare voorgevoel gehad, daai wat jy op Engels noem ’n nare “gut feeling”. My “gut feeling” het vir my vertel ek maak ’n verskriklike fout om my geliefde land te verlaat. Vir tien jaar het my lewe op ver en vreemde paaie geloop. Soms deur dongas en diep riviere. Vir ses jaar was my voetspore op ’n eiland in die Verre Ooste ingeprent. Op 1 Maart 2009 het ek na tien jaar huis toe gekom, teruggekom Namibië toe. Op 6 Maart 2009 het ek weer na 13 jaar vir die tweede keer by Republikein as verslaggewer begin werk. Sommer met die intrapslag op my eerste werksdag het ek die volgende dag se voorbladstorie geskryf. Alles het reg gevoel. Ek is waar ek hoort. Dis hoe die lewe moet wees. So herdenk en vier ek toe verlede week vrolik en in volle glorie die twee belangrike datums in my lewe. Die Namibië Toerismeraad nooi die media om te gaan foefieslaaid by These Hands in die Auasberge. In die rooitaal noem die avonturiste dit “ziplining”. Met ’n lyn van een berg na ’n ander berg oor-“zip”. Jy sit in ’n harnas en twee toue is aan ’n katrol op die lyn gekoppel. Dis die opwindendste gevoel wanneer jy op die afsetplek staan en die instrukteur skree: “Een, twee, drie... ‘go’!” Jou hart klop in jou keel en jy hardloop en hy gee jou nog ’n stamp van agter oor die afgrond. Jy voel so vry soos ’n voël vir 550 meter en kyk 120 meter af na waterpoele onder jou. My knieë het skaamteloos gebewe toe ek veilig anderkant land. Dan moet jy nog met ’n ander lyn terug- “zip” vir 530 meter, teen ’n steiler afgrond en ’n sneller pas. Dit was een van die beste jare van my lewe. Ek het ’n opwindende beroep, ek reis baie en sien die mooiste plekke in my land en ek ontmoet die interessantste mense. Ek is tuis. Binnekort is daar weer ’n belangrike datum op die kalender: Op 21 Maart vier ons land sy 20ste verjaardag. Ons het goeie rede om vrolik fees te vier en Namibia, Land of the Brave, uit volle bors te sing. |