
Ronelle Rademeyer
TOE ek oorleun om die deur aan die passasierskant oop te maak, druk die vrou eers haar kopdoek reg en stryk ‘n verbeelde kreukel uit haar rok voor sy haastig inklim. “Gaan Mevrou by Rehoboth verby?” vra sy toe ek wegtrek. “Ek moet vanaand nog tot anderkant Hoachanas. Ek het medisyne kom haal vir die siek kind…” Halfklaar hang haar sin tussen ons. “Is dit reg as ek jou op Kalkrand aflaai?”
Ek is op pad Suide toe vir ‘n vergadering van die skaapboere. “Dis reg so, Mevrou. Ek sal by die garage ‘n ’hike’ kan kry.” Sy klem haar handsak op haar skoot vas. Ek wil haar uitvra oor waar sy vandaan kom en wat die kind makeer. Maar ek doen dit nie. Inligting het soms die manier om tussen mense te staan. Ek glip liewer Laurinda Hofmeyr se Reis na die Suide in die CD-speler.
* ”beauty douglas was born “op ’n wintersnag so all forlorn,” sing sy. “omring deur die sterre se liggies “en koerante kaal klip “en nuuskierige hande “en tien ander gesiggies “a ’n dogter oplaas ’n dogter “om beeste te kry om die wêreld “te wei a dis lekker “om ’n vader te is te is…” Om ons gly die landskap verby. Op Rehoboth hou ek by die vulstasie stil. “Kan ek vir jou iets kry om te drink?” “Ek sal melk vat, Mevrou,” sê sy en skuif haar reg in die sitplek.
Haar handsak steeds op haar skoot. Toe ek terugklim, vat sy die 500 ml melk by my en sê dankie. Maar sy drink dit nie. Die woorde van die Laurindalied bly ons talisman teen die ongesêde dinge. “die ma het ’n briefie geskryf “aan haar man op die myne “om te sê van die kind en te vra van die geld “want dit was sy kind die dogter “was syne om te sê: o my man “o my man ek het beeste gebaar “op ’n wintersnag so all forlorn “met die sterre soos goud en die mielies klaar “beauty douglas your daughter was born…”
Die son hang laag toe ons uit Rehoboth ry. Asof sy my gedagtes lees, sê die vrou: “Mevrou hoef nie te ’worry’ nie. Ek sal ‘n ’hike’ kry.” Langs die pad wieg die Boesmangras hul wit kuiwe ritmies op die wind. “sy hart het oopgeskiet tussen lae klip “opgeskiet boontoe en oopgevou “in ’n laatnagbrief: my vrou “my vrou sê aan beauty douglas “haar pa het haar lief.
“hy’t sy brief gepos met sy viersentseël “’n lugposbrief aan beauty douglas “om te sê hy’t haar lief “die adres was mnxesha “oor kingwilliamstown kaap “saans as hy sy moegheid streel “het hy gedroom van sy meisiekind…”
Dit is reeds donker toe Kalkrand se liggies in die verte flonker. “Die dokter sê as die kind die medisyne gereeld drink, sal hy nie weer val nie.” Die vrou maak die sak op haar skoot oop en haal die boksie pille saam met ‘n mediese kaart uit. Toe ek by die vulstasie stilhou en sy die deur oopmaak, lees ek op die kaart: Willem Windstaan.
7 years. Epileptic seizures. “en op ’n sonskynmiddag twee maande later “het ’n brief uit mnxesha hom teruggevind: “beauty douglas was born “she died “last grave at dimbaza.” * Die liedjie “Last grave at dimbaza” is ‘n toonsetting van Fanie Olivier se gelyknamige gedig.