Vandag se koerant


Advertensie

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Advertensie

Market indicators


9 Februarie 2010

Suiderland 9 Februarie

Kollig 4 Februarie

Lesers 2010


Fotobeelde

Ons Argiewe

01.02.10

Dansende koedoe vier die reën

01.02.10

Oranjerivier in vloed

02.02.10

Wêreld se tweede grootste uraanmyn word werklikheid

02.02.10

Klein-Aub se groot gat

05.02.10

Honderde stroom na strandmeer vir vis-pasella

13.03.2009

Drie riviere, een lied, drie deuntjies


Des Erasmus
OP die drie kusdorpe sing die manne desedae ‘n eenderse lied, maar op drie verskillende wysies. Op Swakopmund, Hentiesbaai en Walvisbaai is dit pure net “Old man River”. Die riviere is nou Swakop se Swakop, Hentiesbaai se Omaruru en Walvisbaai se Kuiseb.

Daar’s water! Vrydagaand omstreeks seweuur kraai die selfoon se hoenderhaan en kom ‘n sleeptongerige SMS. “Die Swakop is in die see.” Op nog een runnik ‘n perd. Dieselfde storie. Die hinterland van Afrika en die Atlantiese Oseaan gee mekaar ‘n drukkie. Maar was dit nie ‘n droë geboorte nadat die groot waters gebreek het nie.

My Engelse buurgoed Broadley praat sommer van ‘n “bloody Friday.” Wat verkieslik met ‘n “verskriklike Vrydag” vertaal word. Vrydagoggend slaat ‘n warmte die kusdorpe met ‘n stuitige oosweer sommer hier in die eerste week van Maart. Stofwolke uit die binneland sout die dorp se strate en geboue en klop die water in ‘n wedloop see toe.

Die kwik se naald gee so vet dat daar gewonder word of ‘n spietkop nie geskakel moet word nie. Hier teen twee-uur die middag sug ‘n vriendin op Walvisbaai ‘n strofe op die telefoon uit: “Veertig grade.” Daai aand tref die Kuiseb Walvisbaai se waterskuur met so ‘n drie meter water. Dit laat die dorp se ligte knipoog. En toe om sewe-uur die aand soen die Swakop die see met sy reënwater uit die binneland.

Dag en datum en die uur word met ‘n groottoon in die sand opgeteken vir die nag se hoogwater om oor die stukkie geskiedenis te spoel en dit weg te vee. Maar eers terug na die drie dorpe, hul groot riviere en beroemde liedjie van die Mississippi wat hier te lande in drie deuntjies gesing word. Swakopmund se mense raak heel laf wanneer hul rivier se water seewaarts sluip.

Die voorafgaande weke al is die Swakop se water tegemoet gery. Maar dan gaan steek die ou grote in die sand vas soos die Martin Luther by die vakansieoord se oostelike poort. Vrydag word egter nie gespeel nie. Die rivier se stilhouplekke word so op die vingers afgetel. Sandgate, Rössmund-gholfbaan, Langer Heinrich se driffie, die treinbrug, Kramersdorp, die padbrug op die Walvisbaaipad, die vleiland en uiteindelik die see.

By die mond kom die manne aangery. “Four by fours”, koelboks met baie vleis, vuurmaakhout en bier en brandewyn. En die deuntjie slaan op. “Uitspan vanaand, uitspan vanaand, uitspan by mooi rivier.” Walvisbaaiers kyk met ander oë na hul Kuisebrivier. Daar’s nog nie sprake dat die ou grote gaan deurbreek see toe nie.

Daarvoor lê die deltagebied se duineveld te breed. Maar tref die Kuiseb hul waterskuur by die Rooibankskema met so ‘n drie meter soos Vrydagaand, kan ‘n waterlose Walvis weer gebeur. Die baie water kan weer die kragmaspale in die sand laat kantel, die ganse skema lamlê en die hawedorp se mense met ‘n dors tref wat die visnyweraars miljoene dollars uit die sak gaan jaag. Maar dankie!

Die keer hou die “system” taamlik en is daar Saterdag ‘n kragonderbreking van net so ‘n twee uur. Nie dat ontsag en vrees vir die Kuiseb finaal gewyk het nie. Die waterreus haal volgens die rekordboeke sy streke eers hier in die tweede helfte van Maart uit. Dalk was die eerste stormloop net ‘n proeflopie. Weer ‘n liedjie.

“Kinders moet nie in die water mors nie, die oumense wil dit drink…” Hentiesbaaiers het nie juis ‘n saak met of die Omaruru se water die see gaan bereik of nie. Hier in die barheid van die Namib het hulle ‘n dam. Die Omaruru se water word deur die Omdel voorgekeer.

Groen some word geskep waar groen nie normaalweg hoort nie. Watervoëls is baie. Die vis byt nie meer nie en Hentiesbaaiers soek ‘n kuierplek. En as die vleisbraaiplekke om die Omdel se watersoom ‘n bietjie vervalle is, kan jy nog altyd jou eie plekkie gaan skoonmaak. “Daar onder by die mielies by die groen doringboom, daar woon my Sarie Marais”. Die baie reën het binnelanders met ‘n lied in die hart laat juig. Die kusdorpe se mense sing saam.