|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
30.01.2012 Dorp is dalk klein, maar mense is sy hartklop
HEELWAT mense het veel te sê wanneer hulle hoor dat iemand se wortels in ’n plattelandse dorpie lê. Stadsjapies kan nie lekker begryp wanneer jy probeer verduidelik dat jou graad 12-klas uit agt leerlinge bestaan nie. Dat dit nog boonop ’n lekker tyd was, is te veel om in te neem. In sulke gesprekke kan dit moeilik wees om lojaliteit teenoor jou tuisdorp in woorde uit te druk, want wat ’n mens wil verduidelik, is veel meer as dit. Ek en my sussie het nie krieket in die straat gespeel nie en ons het ook nie afslag by lekkergoedwinkels gekry nie.
Die bome op Otjiwarongo is nie hoër as die van Windhoek nie en ons het nie harder uit hulle uitgeval as wat kinders in die hoofstad gedoen het nie. My nefies en niggies wat in Olympia in Windhoek gewoon het, het ook fiets gery en na maatjies se huise geloop. Hulle het ook wildsvleis geëet en omajovas gebraai. Die omies by Agra dra, net soos op die platteland, tweekleurhemde en lang sokkies. Hulle gesels ook oor die Regering, die melkpryse en die nuwe onderwyseressie wat vanjaar by die skool begin werk het. In teorie is daar nie soveel verskille tussen ’n klein dorpie en ’n stad nie, behalwe die getalle inwoners, huise en winkels. Natuurlik ook die verkeer. ’n Plattelandse dorpie soos van waar ek kom, kan nie met syfers en grafieke teen enige ander dorp gemeet word nie, want op die ou einde is dit nie die getal winkelsentrums, teaters, restaurante of vertonings wat die dorpie uniek maak nie. Dit is die mense. Die wat wil, hou dit dikwels teen die platteland dat almal alles van almal weet. Dit is ook so. Die afgelope vakansie besluit ek om huis toe te gaan. Net voor Otjiwarongo trap ek die rem, want ek weet dit is waar die spietkop sit en wag. Hy waai toe ek verby ry. By die eerste stopstraat waai die bestuurder van ’n ander kar vir my en glimlag breed. Die oom laat my eerste ry. Op die dorp sal jou naam nooit saam met jou grootword nie. Maak nie saak hoeveel grade of ondervinding ’n Johanna het nie, Johannatjie sal sy bly. Sy sal ook altyd Johannatjie, die dogter van Fanie en Marie bly. Die dorp het nie verander nie. Nog minder die mense. Almal vra hoe dit met my gaan. Hulle kom drink koffie en vra my uit oor my werk, oor Windhoek en oor my persoonlike lewe. Veral laasgenoemde. Ek kry raad en aanbevelings en resepte. Hulle praat oor hul lewens voor hulle platteland toe getrek het. Voordat hul lewens rustig geraak het. Toe hulle nog lank in die verkeer moes sit om melk te gaan koop en hulle nie hul bure geken het nie. Dit is lekker om in Windhoek te bly, sê een tannie. Maar ek kan haar maar glo, al kom ek nooit eens terug nie, Otjiwarongo sal altyd my huis wees. Ek moet my tydjie by die huis geniet en ek kan maar sê as daar ietsie is waarmee sy my kan help. “Stuur my hemel toe, ek dink dit is op die platteland.” |