|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 9 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
25.02.2010 Die storie van Leila se kind en die engele
TA’ Han het nie dadelik my vraag beantwoord nie.
Sy het haar meelhande tydsaam aan haar voorskoot afgevee en gestrek om die vuurhoutjies bo-op die stoofkas by te kom. Toe die gas vlamvat, het sy die ketel op die brander gesit en begin om die teegoed op die skinkbord uit te pak. Eers toe die tee gemaak is en sy seker was die brood wat sy aan’t bak is, rys goed, het sy na my gedraai. “Daai is gunter se goed. En my ou kop vat nie meer so lekker nie. Wat ek jou wel kan sê, is dat dit alles begin het die middag toe die blink meneer met sy swart mouter doer onder die peperboom gekom stilhou het,” en sy beduie vadoek in die hand in die rigting van die werf. “Wat bedoel tante met ‘alles’,” het ek my dom gehou. “Van die kind en dit,” het sy gesê sonder om na my te kyk. Sy het weer gestrek om bo-op die stoofkas by te kom. Dié keer het sy ’n geroeste teeblink afgehaal en dit voor my op die kombuistafel kom neersit. Ek het die deksel losgewikkel. Binne-in was ’n bondeltjie briewe, vasgebind met ’n toutjie. Ook ’n paar vergeelde foto’s. En ’n geboortesertifkaat. Die kind se geboortesertifikaat. “Die man met die swart mouter het dit saamgebring toe hy gekom sê het van die testamint…en die kind. Dit was ’n week nadat ons gehoor het van haar afsterwe.” Sy het nog tee geskink. “Hulle het haar in die Kaap in begrawe, het die man gekom vertel. En toe wys hy die testamint wat sê die kind moet terugkom Rietoog toe, na ons toe. Leila wou dit so gehad het. Sy’t geld gelos dat ons agter die kind kan kyk.” Leila is Kaap toe die jaar toe die Visrivier vir Mariental die eerste keer platgevee het. Dit was ’72, as sy reg onthou. Sy is agter die briefskrywer aan Kaap toe. Die een wie se briewe sy steeds netjies vasgebind met ’n toutjie in die teeblik bêre. Die een wat Leila ontmoet het toe sy kamers skoongemaak het in die hotel op Mariental. Die kind is dood in 2000 toe die Visrivier vir Mariental die tweede keer platgevee het. Een agtermiddag in Maart toe die hemel in wit bliksemstrale en ’n kwaai donderstem aarde toe gepraat het. Hy sou die einde van daardie jaar 28 geword het. “Ons het hard geprobeer om goed agter hom te kyk... Regtig, ons het,” sê Ta’ Han terwyl sy met haar een hand denkbeeldige kreukels uit die tafeldoek stryk. “Ma’ ons kon nie die snaaksgeit uit hom kry nie. Hy het al baard gehad en diepstem gepraat, toe speel hy nog met sy karretjies in die jaart. En elke middag het hy die windpomp geloop uitklim. Om by sy ma en die engele te gat kuier.” Hulle het gesmeek daardie middag toe hy weer wou windpomp toe, sê sy. Aan hom probeer verduidelik dit is te gevaarlik om in sulke swaar weer teen die windpomp te wil uit. “Maar hy het aangehou sê sy ma roep hom; hy moet gaan.” Ta’ Han trek die teeblik nader en haal een van die foto’s uit. “Hier, kyk. Hy het dit in sy hand gehad toe die straal hom daar van bo afgeslaan het.” In die hoek van die foto is ’n brandmerk die grootte van ’n man se duim. En in die middel die vergeelde beeld van ’n vrou wat met sagte oë afkyk na die krulkopkind op haar skoot. |