
Annerie Kruger
MENSLIKE atmosfeer. Roetine. Dit is elke dag rondom ons. Jou “aura”… jy skep dit self of iemand anders kan dit heeltemal omkeer of inkleur. Snaaks hoe jy as mens vir jouself verwagtinge skep en altyd verras word daardeur. Partykeer ten goede en ander keer weer nie soos jy verwag het nie. Ons gebruik elke liewe dag stemtoon en lyftaal. Maar ons besef nie aldag hoe magtig dit werklik is nie.
Ons gebruik dit onbewustelik op die ingewing van die oomblik. Saam met dit is die tong ’n wapen waarmee daar nie gespeel word nie. Elke dag het ons sekere goed wat gedoen moet word, goedjies wat vooraf beplan is… roetine. Dinge wat sommer vanself gebeur, want dit is hoe ons dit elke dag doen. Soos die lewe mos maar is, verloop dinge nie altyd vlot soos jy wil nie.
Verskillende persoonlikhede het ons beslis. Nie een is dieselfde nie – so uniek het die Liewe Vader ons geskape. Want hoe sou dit dan wees as ons almal dieselfde was en is? Ek is ’n ekstrovert, maar dit is nie te sê dat almal soos ek is of moet wees nie. Ons moet mekaar respekteer en mekaar probeer verstaan.
Iets wat veel makliker gesê is as gedaan. My manier van doen, is dalk nie altyd die regte manier van doen nie, maar ek sien dit as reg. So sien ’n ander persoon weer sy/haar manier van doen as reg, en ek sou weer van mening verskil. Soos ons mos maar is, word hierdie verskil gewoonlik deur ’n verandering in stemtoon of ’n lyftaalgebaar beantwoord wat weer verdere reaksie uitlok. Reaksie waarvan ‘n mens nie altyd hou nie!
Ons is geneig om vinnig ons meningsverskille uit te spreek in plaas daarvan om eerder ’n wag voor ons mond te sit. Net so is ons geneig om met lyftaal ons meningsverskille te wys. En partykeer kom spyt net te laat! Menseverhoudings gebeur nie oornag nie, dit ontwikkel met tyd. Meningsverskille sal daar altyd wees, dit is deel van ons groeiproses. Maar ’n sagte woord of ’n glimlag kan die hele atmosfeer en omstandighede verander.
’n Goeie oplossing vir baie moeilike situasies of meningsverskille is ’n glimlag. So magtig soos die tong kan wees, so magtig kan ’n glimlag ook wees. Ek is maar een wat eerder ’n glimlag verkies. Daar is genoeg aggressie in die wêreld – daarvoor is dit nie nodig om met woede in jou rond te loop en die atmosfeer rondom jou te versuur nie.
Om ’n argument uit te lok, is nie altyd die oplossing vir probleemsituasies nie. So moeilik soos dit by tye kan wees, probeer maar op die tande byt en haal net diep asem! Toets dit bietjie self as iemand nors op jou afgestorm kom, glimlag vir die persoon en jy gaan verbaas wees hoe vinnig verander die ander persoon se gesig.
Mag jy soos ek eerder glimlag in die vervolg as om met stemtoon of lyftaal reaksie uit te lok. Want sien, dit neem meer spiere om te frons as om te glimlag! Dink net aan die liedjie: “Smile a while and give your face a rest!”