17.5.2012
 Argiewe:

Vandag se koerant


Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


16 Mei 2012

SUPERMAAN


30 Bruidspare gekies


Suiderland 15 Mei

Kollig 10 Mei

Die Weer


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

20.01.2012

Die maand van bruinpapier, sotte, jêm- en visblikke

© Republikein
Ronelle Rademeyer
SNAAKS hoe sekere dinge in ons snelveranderende wêreld oor dekades heen die pas markeer.

Die klanke van “Stille Nag” het skaars weggesterf en die vrugtekoek is nog nie opgeëet nie, dan gryp die nuwe jaar jou aan die kraag en sleep jou na die winkelrakke vol skoolbenodigdhede en skryfbehoeftes. “Ma, wat is die verskil tussen ’n kasboek en ’n grootboek? Is ’n Bantex ‘Ring Binder’ en ’n Lever Arch ‘File’ min of meer dieselfde ding? Het Ma onthou om vir my ’n afspraak by die haarkapper te maak? Juffrou gaan ’n ‘gasket’ blaas oor my lang kuif.”

Enso(onophoudelik)voorts!

Asof dit nie uitdagend genoeg is om twee tienertelge op dag een van die nuwe skooljaar skoongeskrop en uitge-“kit” in die ry te laat aantree nie, is kleinboet boonop vanjaar ’n sot.

En nie sommer enige sot nie: ’n Rioolrot! “Die brief sê ons moet muisore, ’n lang stert en ’n lang, skerp neus hê,” lees hy die instruksies terwyl ek probeer onthou of daar ooit nog ’n naald en gare in die linnekas is. Vir ’n ma wat nie eens ’n knoop kan aanwerk nie, is die gedagte om jou spruit met jou vlytige vingers soos ’n karakter uit Alvin and the Chipmunks te laat lyk angswekkend. Hulle kon my net so wel gevra het om die Avis-dam met ’n vergiettes leeg te skep.

Terwyl ek nog oor die skok probeer kom, lees hy verder: “Ons moet ook elkeen ’n bol knoffel om die nek dra en vir ons ’n stuk bloukaas as ’n troeteldier saamneem.”

’n Paar oproepe en ’n handvol vernuftige vriendinne later is die graad aggie onder ons dak ’n rioolrot de luxe.

Toe die rioolrot en sy ouboet Dinsdagmiddag na skool in die kar klim, is dit nie die reuk van bloukaas en knoffel waarin ek wil verstik nie. Dit is die boektasse wat boepens staan van al die onoorgetrekte boeke wat my ’n kol op die maag gee.

“Ma hoef nie te ‘worry’ nie, ek gaan hierdie jaar self my boeke oortrek,” troos die rioolrot terwyl hy sy lang stert vrolik in die kar rondswaai. “Famous last words”, dog ek toe hy die aand benoud in die gang af roep dat ek hom ’seblief tog moet kom help.

“Ek sukkel my vrek dat hierdie dêm papier nie bobbels maak wanneer ek dit plak nie,” sê hy en probeer ongeduldig die lugblasies bo-op een van sy handboeke plat vryf.

“Dis sommer nonsens dat vandag se kinders nie soos in ons dae hul boeke met doodgewone bruinpapier en plastiek wil oortrek nie,” stook pa gemaak onskuldig sy ongeduldsvuur. Asof hy nie teen hierdie tyd weet op ouderdom 13 is pa en ma se retro op- en aanmerkings net so onwelkom soos ’n puisie op die wang nie.

Toe die boeke om middernag uiteindelik klaar oorgetrek is, onthou die rioolrot skielik van die (sotlike) goed (’n das, ’n emmer, ’n wortel en ’n ui) wat hy vir die volgende dag se ontgroening moet saamneem.

Opnuut ’n geskarrel: “Ma, waar’s die emmer wat altyd onder die afdak by die agterdeur gebêre word?”

Die skooljaar is twee dae oud en ek is klaar uitgeput.

Net voor ons die lig afsit, hoor ek die rioolrot sy ouboet vra: “Is die atletiekbyeenkoms volgende naweek of eers die naweek daarna?”

Jêmblikke-visblikke, hier kom ons!