|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
24.01.2012 Die kliek-kliek van breinaalde is glo hoogmode vanjaar
HOOGMODE vir 2012 is om iets met jou eie hande te maak. Vanjaar gaan meer mense kies om handgemaakte produkte self te maak of dit by markte te koop.
Tuisgemaakte konfyt en brood is glo ’n weerspieëling van die wêreldwye nostalgie oor ’n idilliese, plattelandse lewe, volgens vrouetydskrifte. Kos wat vanjaar in die mode is, is tong, varkore, pens en lewer. Binnegoed is in, sê die tendensvoorspellers. Tuisgemaakte groente- en vrugtepiekels gaan nou op kombuisrakke pryk. Daar is ook glo ’n nuwe neiging dat jy ten minste drie tuisgemaakte geskenke vanjaar aan spesiale mense moet uitdeel. Dis die jaar van skeppend wees met jou kreatiewe idees. Weg is die dae van gou-gou in ’n winkel inhardloop en ietsie vir ’n vriend se verjaardag koop. Nou moet jy moeite in ’n geskenk in sit om te wys jy gee regtig om. Jy het dus tyd en kreatiwiteit nodig om iets self te maak. Ek het twee probleme: Weens my beroep en sy onmoontlike ure, het ek nie veel vrye tyd nie. My tweede probleem is my twee linkerhande en ’n hele paar duime. Ons vroulike voorsate soos ons oumas en ma’s het vele deugde gehad, soos brei, hekel, naaldwerk doen, konfyt kook, vrugte inlê, groente piekel en nog vele meer. Hul hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Ons jonger geslag vroue is meestal beroepsvroue en ons handjies is maar redelik rond. Laat ek nou nie wol oor iemand se oë trek nie, ek kan glad nie hekel nie. My ouma het alles in haar vermoeë gedoen om my te leer hekel, brei, borduur en koekies bak, maar ek is ’n rabbedoe wat liewer saam met my oupa veld toe wou gaan. Ek wou eerder kettie skiet as koekies bak. Op skool het my ma my slaapsokkies, serpe, toiletrolletjie- oortreksels en truie vir my naaldwerkopdragte gebrei en dan het ek ’n goeie punt in naaldwerk gekry. In standerd ses was die naaldwerkopdrag ’n onderbaadjie. My ma het die drie pante mooi en eweredig gebrei. Ek moes net die omboorsel brei wat ’n maklike taak is. Ek het dit egter tot op die laaste nippertjie uitgestel en tot in die studiesaal die breipenne laat klik en klap om die omboorsel klaar te kry. Hoe later hoe kwater. Die vaak het ingetree en teen twee-uur die oggend toe begin ek die omboorsel te rek. Die omboorsel is so rek-rek aan die pante vasgewerk. Vir die knoopsgate het ek gate met ’n stomp skêr in die omboorsel gesny. Ek het my pienk kamerjas aan my lyf se knope afgesny en aan die omboorsel vasgewerk. Toe moes ek die bedryf met ’n koue yster platdruk, maar dit was ’n stryd, want die uitgerekte omboorsel het die onderbaadjie inmekaar in ’n bolletjie laat krimp. Naaldwerk was die eerste van twee vakke wat ek ooit in my lewe gedop het. Ek het ’n volle twee uit tien vir die onderbaadjie gekry. (Die ander een was volkekunde 121 op universiteit en behels ’n deurnag studentepartytjie by die Potch-dam, maar dit liewer daar gelaat.) Iewers in my volwasse lewe het ek weer ’n trui probeer brei, maar dit nie voltooi nie. Verlede jaar toe ek by my ma gaan kuier het, toe dra sy die trui nadat sy dit klaar gebrei het. Ek was nogal jaloers dat dit nie aan my lyf gepronk het nie. Miskien is dit tyd dat ons beroepsvroue weer die breipenne en wol opdiep en begin brei. Die voordeel is dat niemand op die dorp met dieselfde trui as jy rondloop nie. Jy kan brei terwyl jy jou sepie op TV kyk. Brei is glo ook ’n goeie manier om op te hou rook, want jou hande bly besig. Daar is glo ook niks fout met ’n man wat kan brei nie. Dit moet lekker wees om te sê ek het iets met my eie hande gemaak. Of om te sê ek het dit spesiaal net vir jou gemaak. Kom ons begin weer ’n barshou brei. |