SCORE CARD:


20 YEARS OF INDEPENDENCE

Vandag se koerant


Lesers 2010


Fotobeelde

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Advertensie

Market indicators


12 Maart 2010

Namibië vier 20 jaar


Kollig 11 Maart

Suiderland 9 Maart

DMH competition terms


Advertensie

Ons Argiewe

01.03.10

Drywer skiet homself ná vragongeluk in woestyn

03.03.10

Stem Namibies

02.03.10

Tiger Reef bly in branders se visier

28.02.10

Ruiterstandbeeld staan weer trots

01.03.10

Beesdief steel ’n tweede keer

2.07.2009

Die beste batterylaaier – 'n naweek op die plaas


Ruhan Bothma
HET verlede naweek weer die stukke af Suide toe ingesit.

Plaas toe.

Dit is anderster mense wat in die Suide op plase en seker ook op die dorpe bly.

Mens-mense.

Klim jy uit die kar word jy ontvang asof die verlore seun weer tuisgekom het en die vreemde vriende wat saamgaan vir die naweek, voel ook sommer of hulle al jare lank deel van die familie is.

Lekker.

Die ritueel is dat die aand wat jy op die plaas aankom, word gebraai en ek hoop die ritueel verander nooit nie. Niks is lekkerder as om om daardie plat vuur wat knap bo die grond gemaak word, te sit nie. ‘n Suideskapie se rib en tjoppies op die vuur en goeie geselskap.

Wat meer wil ‘n mens nou hê?

Die lekkerste is as dit inkruiptyd word, die ligte-enjin word afgesit en dit word stil op die plaaswerf.

Dis donker, nagdonker.

Geen straatligte wat in jou kamer inskyn nie, nie die gedreun van die mannetjie wat straataf bly se opgewarmde Nissan-bakketjie wat vyftig keer per aand verby die huis jaag nie.

Dit is stil. Hier en daar deur die loop van die nag blêr ‘n dorper in die kraal en ‘n horlosielose hoenderhaan kraai dalk vieruur in die môre.

Vroegmôre word jy wakker van die geluid van ‘n ou diesel Cruiser wat op die werf kom stilhou.

Dit is die buurman wat gou oorkom vir ‘n koppie koffie en om te kom kyk of alles by sy bure in orde is.

Daar word met regopstaande hare en slaapkorrels in die oë op die agterstoep gesit en koffie, moerkoffie uit ‘n fles, gedrink.

En soos die gesels aangaan, kom die een na die ander uit die huis gesluip en sluit aan by die oggendkuier op die stoep.

Intussen is vuurgemaak in die groot houtstoof in die kombuis, die volgende keteltjie kookwater is aan die sing op die stoof en die warmte daar binne laat jou tuis en geborge voel.

Vleis is deel van elke ete, ontbyt, middag en aand. Dit is maar net hoe dit is en die cholesterolpilletjies wat die apteker in die stad gegee het, moet oortyd werk.

Die een ding waarna op die plaas verlang word, is die ou plaastelefoon wat nie meer die heeldag lui soos almal wat op die lyn is oproepe kry en maak nie.

Verby is die dae toe ons as kinders vergeet het om te vra of die lyn besig is en laat waai met daardie slingertjie sentrale toe ten koste van die ore van een of twee wat dalk op die lyn besig was.

Ek verlang na die hardloop telefoon toe as jy daardie drie kort luie hoor.

Dan is daar die veld toe gaan agter op die ou plaaskar.

Jy ruik die gras en stop by die eerste pos waar ‘n lemoenboordjie aangelê is. ‘n Windpomp knars en spoeg ‘n straal water in die dam. Ek gaan hang onmiddellik oor die damwal en drink water.

Daarna is ons almal die lemoenboord in en pluk lemoene wat sommer dadelik daar in die skadu verorber word.

Laatmiddag word twee skapies uitgekeer. Die een se dood is die ander se brood.

Met sonsak is ons weer by die huis.

Die vuur in die stoof word weer gestook en almal sit om die groot twaalfsitplek kombuistafel en kuier.

Weer word daar weggelê aan spys en drank en vroegaand is almal weer in die bed.

Die goorste van die hele naweek is wanneer die karre Sondag net na die middag gepak word om na ons mierelewe in Windhoek terug te keer.

Dan tref daardie ou gevoel my wat ek in my skoolloopbaan gehad het van terug koshuis toe.

Of ek nou op die plaas is of hier ons stad, Sondagmiddae is nie my ding nie, dan verlang ek na mense wat ek nie ken nie en wil nie op my eie sit nie.

Baie lesers ken seker die gevoel en weet waarvan ek praat.

Gelukkig weet ek dat ek weer al hierdie dinge oor ‘n paar weke kan ervaar, die goor van die Sondagmiddag ook, want ‘n naweek op die plaas tussen Suidemense vergoed dubbel en dwars vir die gevoel.