
Estelle de Bruyn
‘n ADVERTENSIE is sommer dikwels vir my ‘n irritasie. Soms het jy ‘n lekker lang “feature” geskryf, maar dan het die bemarkers ‘n advertensie op die koerantbladsy ingemerk en die ruimte vir jou storie en die bygaande foto’s krimp.
Maar soek jy iets soos ‘n tweedehandse motor, ‘n goedkoop blyplek in ‘n woonbuurt naby aan jou werk, ‘n troeteldier vir jou kind of wat ook, gryp ‘n mens die koerant en raadpleeg jy die kleinadvertensies om te sien wat aangebied word. Kry jy wat jy soek, is jy al te dankbaar vir die advertensie wat jou op die spoor van jou behoefte gesit het.
Een van die dae (die 17de Oktober om presies te wees) is dit weer tyd vir die jaarlikse Geckotoekennings waartydens die beste van die advertensiebedryf beloon word vir die skeppende vermoë waarmee produkte gesmous word. Ná ‘n lang gesprek met Madryn Cosburn, die sameroeper van die beoordelaars van vanjaar se kompetisie, sit ek terug met nuwe bewondering en verstomming oor advertensies en die invloed wat dit op ons alledaagse lewens het.
Soos met soveel ander vindingryke uitvindsels in die wêreld, begin ‘n goeie advertensie met ‘n goeie idee. Dis hier waar ons gewone sterflinge van die bus af val. My definisie van ‘n “goeie idee” is as ek die dag betyds onthou om melk of brood te koop en nie twee keer daarvoor hoef te ry nie.
Maar vir die skeppende siele in ons midde, is die “goeie idee” gelyk aan die wonderwêreld van towerkrag en towenaars wat hasies uit hoede trek en towerstaffies rondswaai en ‘n wit sakdoek in ‘n veelkleurige ellelange satynserp verander. Ja-ja, ek weet dit is alles veronderstel om oëverblindery te wees, maar ek kon nog nooit uitredeneer hoe hulle dit doen nie, so vir my bly dit “magic”.
Die goeie advertensie begin volgens Madryn altyd by ‘n goeie idee. Dan kom die uitvoering en vervaardiging en polering van die idee tot die advertensie, byna soos met ‘n towerspreuk soos “presto”, op die bladsy van die koerant of tydskrif of op ‘n TV-skerm of oor die senders van die radio lewe kry.
Swak vervaardiging kan ‘n goeie idee skade berokken, maar perfekte vervaardiging kon nog nooit ‘n swak idee red nie, vertel Madryn. Ek hang behoorlik aan sy lippe. Vanjaar het ons plaaslike advertensiebedryf weer hul beste en blinkste, mees kreatiewe en treffende advertensies ingeskryf om te kyk hoe hulle in die oë van die beoordelaars vaar en of hulle met die gesogte Grand Prix- of selfs ‘n “Stone”-toekenning kan wegstap.
Dit vra moed. Om jou werk so voor te lê en te wag vir die ja- of nee-woord van die kritiese kenners wat met ‘n vergrootglas na die advertensie kyk en dit opweeg teen die bestes in die wêreld, moet jou vel maar redelik dik wees. Ek vat dit van myself!
Dis amper soos jou kind wat gaan deelneem aan ‘n eisteddfod en sy of haar talente daar gaan ten toonstel. Vir jou is joune mos maar die mooiste en die talentvolste. Vir elke hen is haar eiers die witste en die grootste en die mooiste.
Ek wens al ons kunstige, talentvolle, skeppende advertensiemense alles van die beste toe vir die Gecko’s. Mag die beste advertensie wen en mag ons plaaslike advertensiebedryf van krag tot krag gaan en voortgaan om advertensies van internasionale gehalte te vervaardig, al krimp julle soms my kreatiwiteit met ‘n storie wat ek graag op ‘n volblad wou gehad het!