|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 9 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
2.03.2010 ... En nou staan die huis daar met leë oogkaste
Dis vreemd hoe ‘n mens jou voorberei op iets groots en dan tref ‘n dwarshou jou uit die skerpby-kant wat jy nooit sien kom het nie. Been voor paaltjie óf dalk eerder skoongeboul.
Met die oorhaastige voorbereiding van my eie trek na my nuwe huisie, nooit gedink dat ek drie weke later nog ‘n trek agter die rug sou hê nie: my ma s’n. Sy’t geval, heup gebreek, of soos ek nou hoor, die heup breek eers en dan val ‘n oumens. In minder as drie weke moes ek leeftye se lewens (myne, my ma en oorle’ pa s’n, my oorle’ ouma en ook herinneringe aan voorvaders) oppak, besluit wát saam terugtrek Windhoek toe, wat gaan ouetehuis toe, wat kry my ma se vriendinne en wat word verkoop, onder meer my ouerhuis. Dis die herinneringe wat ‘n mens oorweldig as jy die buffet se deurtjies oopmaak en die eetstel sien wat net vir spesiale geleenthede gewas en gepoets en mee tafel gedek is; die messe- en vurkestel met beenhewwe wat sy en my pa vir ‘n troupersent gekry het; die mandjie waarin sy altyd haar hekel- en breigoedjies gebêre het; my ou skoolrapporte en boeke wat sy al die jare gebêre het; die briefies van die kleinkinders wat sy sorgvuldig tussen haar goedjies versteek en gebêre het vir weer lees. Ek het myself telkens gevra hoekom die trane dan so onwillekeurig oor my wange loop. Dis mos mooi herinneringe aan gelukkige tye en kinderjare wat vandag se kinders net van kan droom. Soos die hekelpenne, die breipatrone, die oorblywende hekelgare en wol en ook die resepteboeke saam met die tannies by die deur uitgaan; soos die yskas, ketel, beddens en spieëlkaste saam met hul nuwe eienaars sypaadjie toe trek, soos die huis al leër en leër word, kruip ek al dieper in die donkerte van my ou kamer weg. Ek hou my besig met die boekrakke waarop my sentiment onder stof van jare vergader het. Ek hou die blindings toe en die gordyne ook. In die skemer probeer ek my afsluit van wat om my gebeur, wat móét gebeur, wat die verloop van die lewe is. Die grootste riem onder die hart is die tannies en ooms. Hulle spring in en toe ek sê: garage-verkoping, toe organiseer hulle. Oor die draad gee tannie Bokkie mandjies vol kos en warm tee uurliks aan as sy nie in die garage aan die verkoop óf in die huis aan die pak is nie. Oom Theuns ry boeke weg biblioteek toe. Tannie Sannie merk my ma se klere en linne vir die ouetehuis; Louis bestuur, beman en polisieer die garage-verkoping, ry meubels aan ouetehuis toe saam met oom Theuns, pak, dra, gee ‘n skouer om op te huil; Mara organiseer en verkoop en staan vir Louis by, tannie Ralie en tannie Annet j i e spring met stofsuiers in, ná byna die laaste meubels uit die huis uit is, organiseer die helpers en maak die huis van hoek tot kant skoon. Tannie Stienie en Susan organiseer ‘n loopraam met wieletjies vir my ma. En nog vele meer. Hierdie is “multi-tasking” tannies en ooms! Dierbare tannie Sannetjie se weemoed oor die gebeurtenis beland haar in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal met hartversaking. Die telefoon lui onophoudelik met 80 persent wonderlike mense wat wil help en hul beste wense en sterkte oordra en 20 persent met die kansvatters en aasvoëls wat daarop uit is om munt te slaan uit die omstandighede. EN: As iemand weer vir my sê: “jy gaan baie sterker anderkant uitkom”, dan vloek ek in Vlaams dat die kranse antwoord gee. Ek wil nie sterker wees nie! Ek wil baie liewer swak wees, met my Mamma in haar huis/my ouerhuis, met haar goedjies om haar en haar vriende by haar, as om haar in ‘n aftreeoord se eenheid vir verswaktes te sien. Ek bly glo, een van die dae is sy in haar mooi kamertjie wat ek vir haar ingerig het, een van die dae is die loopraam nie meer nodig nie, een van die dae is sy op ‘n vliegtuig Windhoek toe, om by my te kom kuier of dalk te bly. Daaraan moet ek vashou. |