Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Kollig 4 September

Motor 29 Augustus

Ongwediva handelskou


Erongo 20 Augustus

Noorderlig 20 Augustus

Ons Argiewe

28.07.08

Vrou staan op uit doodsbed

08.08.08

Presidentseun in boeie

22.07.08

Bloed spat by rugby

30.07.08

Aanval ruk Grootfontein

15.08.08

'n Rokkie wou sy dra, maar o wee...

21.07.2008

’Skoolsiek’ is 'n oordraagbare kwaal


Mara du Toit
DIT was ‘n snikhete middag in die laat herfs. My pa moes preek op Hammanskraal. Ons het in ‘n ry ingeryg gesit op die smal kerkbankies, my ma, ek en twee sussies, almal geklee in dieselfde, outydse fluweelrokkies met ‘n kant voorskoot. Wit kniesokkies met ‘n kant rantjie en nerfaf, swart, blinkleer skoentjies.

Ek kan nie veel onthou van waaroor my pa gepreek het nie, maar ek onthou hoe mooi die mense in die sendingkerk gesing het. Die vroue het sisrokke van dieselfde materiaal gedra as wat my ouma in haar materiaalwinkel verkoop het, die soort met die leeus of ander diere daarop afgedruk en sulke wit hoedjies met net oor die oë. Ek kan net onthou dit was warm en ek het gesweet en kriewelrig geraak, soos kinders in die kerk maak.

Die reuk van seep het in die lug gehang en sonstrale het deur die vensters geskyn en ligstrepe oor die vloer getrek. Toe die diens klaar was, moes ons in ‘n ry staan terwyl hulle vir ons gesing het en geskenkies vir die familie aangedra het. Sakdoeke vir my pa, ‘n pyrex-glasbak vir my ma en handpalms vol kleingeld vir elkeen van ons kinders.

Van die tannies het gehuil terwyl hulle ons ‘n dubbele handdruk gegee het so asof ons vir hulle die geskenk gegee het en nie andersom nie. Die hele gemeente het kom groet toe ons in die kar klim om te ry. Dit was in 1984. Dieselfde tyd was daar landmyne in Suidwes en my pa moes kom diens doen op die grens. By die huis het ons af en toe ‘n briefie vol swart kokistrepe of ‘n “ratpack” gekry.

Alles was ‘n groot avontuur en pa se “browns” en stewels is aangepas vir huiskonserte en die kougom is uit die “ratpacks” gegaps. PTSD het nie bestaan nie en mans het nie gehuil nie. Ek het eers baie jare later gehoor hoe my pa sy konvooi gemis het en met ‘n latere een gery het net om op die wrakstukke van die Buffel waarin hy moes gewees het en stukkende mense gestrooi oor die pad af te kom.

Maar in my kinderwêreld het die goeie geheers. Die boelie straatop wat my fiets probeer steel en my ‘n vuishou in die wind gegee het, moes aan my pa verduidelik. Die duiwel was in die gedaante van Gert van Rooyen wat kinders met lekkergoed in sy kar gelok het. Ou Mieta kon my wegsteek agter haar uitbundige agterstewe toe my ma my ‘n pak slae wou gee omdat ek weggeloop het “skool toe”.

Ek was skaars vyf en ‘n man wat my amper ‘n kilometer van die huis af gekry het naby ‘n besige inkopiesentrum, moes die hele ent pad saam met my terug huis toe stap omdat ek geleer is om nie by vreemdes in die kar te klim nie. My entoesiasme vir skool het egter vinniger gekwyn as wat ryp in die vaal Junieson op ’n Hoëveldgrasperk smelt. Later het ek winteroggende vergeefs in ‘n bondeltjie onder die duvet probeer wegkruip in’n poging om by die huis te bly.

My ma het my ongelukkig kom uitsnuffel en uit die bed geboender net om my anderhalfuur later, met ‘n maag vol ontbytgraan en skooltassie in die hand by die deur uit te jaag. Van daar is dit knarsend oor die witgerypte grasperk en daarna die kwaai tannie se keffende steenbokhondjies ontglip tot by die skool.

Baie dinge het verander sedert ek met knopknieë en ‘n skoolrugsak die buurt se honde en boelies getrotseer het om by die skool uit te kom, met Mieta se appelkooskonfyt en marmite-toebroodjies in foelie toegedraai. Kinders loop nie meer skool toe nie. Hul ma’s sit hulle skoolkos in wat deur ‘n dieetkundige uitgewerk moet word. ‘n Neutstafie, vrugteskyfies en vars wortelstokkies of kersietamaties.

Weg is die dae van kondensmelkstafies of aartappelskyfies by die snoepie koop. Daar het ‘n hele paar duiwels bygekom sedert Gert van Rooyen en deesdae werk engele waarskynlik oortyd, maar kleingoed is nog steeds nie lief om op wintersoggende uit die kooi op te staan nie. Ek kry my jongste, wat nog in die kleuterskool is, soms jammer en val dan maar vir sy kastige vae “simptome” en laat hom tuisbly.

Skoolsiek is egter ‘n trappie verder geneem toe my dogter se skool nou die dag bel en sê ek moet haar asseblief kom haal, sy het maagpyn. Kom by die dokter oor die vreeslike maagpyn en nes ma’s is, dink ek net aan blindederms en nierontsteking. Die dokter voel hier en druk daar en vra vrae, kyk in die ore ensovoorts. “Het sy die vorige dag oefeninge gedoen,” vra hy? “Dit lyk dan al vir my na seer spiere!”