Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Bruidspaarkompetisie in volle swang


Sien fotos hier

Kollig 9 Februarie

Die Weer


Videonuus


Finse universiteit skenk voertuie

Videonuus


Damara Lewende Museum

Videonuus


Die onkruid waai op Nkurenkuru

Advertensie

Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae


Graad 12 Full time & Part time

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

23.08.2010

‘n Warm werklikheid by Binnelandse Sake

© Republikein
Estelle de Bruyn
DIE blote gedagte aan ‘n besoek aan die Ministerie van Binnelandse Sake en Immigrasie, is genoeg om enige mens ‘n hol kol op die maag en ‘n yslike hoofpyn te gee. Soos die meeste Namibiërs het ek ten minste een keer in vyf jaar ‘n afspraak by die Ministerie om aansoek vir ‘n nuwe paspoort te doen. Verlede week was dit sulke tyd.

Na ek eers uitgestel het, die aansoekvorm wat ek laat haal het, verloor het, weke later weer gekry het, en uiteindelik by die polisie uitgekom het om die dokument te laat sertifiseer, was daar geen wegkomkans nie.

Gewapen met ‘n polistereen wegneembekertjie tee, drie koerante en die voorneme om kalm te bly en baie geduldig te wees, betree ek kort na 08:00 die kantore van Binnelandse Sake in die hoofstraat. Ek drink my tee, lees my koerant en beweeg treetjie vir treetjie vorentoe.

Die eerste ry is om die dokumente te verifieer en seker te maak dat jy alles het wat die burokrate van jou verwag. Ondanks die oënskynlike wanorde, vorder die ry fluks na waar ‘n staatsamptenaar agter ‘n glasvenster jou papiere moet bekyk. Ek kry haar jammer, want elke siel wat daar aankom met sy of haar gerf dokumentasie, het ‘n lang storie te vertel.

Die arme vrou se geduld word daagliks baie meer beproef as myne wat net vir een dag in ‘n ry moet staan. Die tweede ry is die betaalry. Hier gaan dit ook voor die wind. Dis by die fotonemery waar die moeilikheid begin. Een kamera en een kamera-operateur: baie mense.

Die stelsel werk so. Sy neem die dokumente van ‘n klompie mense in, verdwyn uit die hokkie en daar staan almal. Stom verbaas. Wat nou? Maar toe sy later terugkom besef ons wat gebeur het. Sy is met ons dokumente na die agterste kantore waar die inligting op die rekenaars ingetik is.

Met die terugkom roep sy een vir een die mense van wie sy die dokumente ontvang het, neem hul foto’s en vingerafdrukke en daar gaat jy. Ná ek die koerante van hoek tot kant deurgelees het, begin ek my verkyk aan die mense. Dis inderwaarheid ‘n mikrokosmos van Namibië. En soos in die meeste sulke plekke, wys die polaroid-fototjie van die samelewing, net hoe ons as volkie lyk.

Daar moet mos altyd een wees: die grootbek wat luidrugtig vir almal wat wil en nie wil nie, maar nie anders kan as om te hoor nie, staan en verkondig hoe korrup Afrika is en dat niks in Afrika sal gebeur as daar nie omkopery is nie. Weet nie of hy gedink het sy tirade gaan die ry vinniger laat beweeg of vir hom voorkeurbehandeling verseker nie, maar nou ja.

Dan is daar die voorstedelike, middeljarige vrou wat daar instap met haar handsak styf vasgeklou. Sy is ongemaklik en ontuis, duidelik uit haar gemaksone uit en niks lus om daar te wees nie. Sy is daar omdat sy nie anders kan nie. Die dae van agente wat die soort ding namens jou doen, is verby. Jy en jy alleen moet in die ry gaan staan.

En dan gebeur nog iets. ‘n Groot Oshiwambo- sprekende jong man, wat met die eerste oogopslag nogal intimiderend lyk, ontferm hom oor mevrou met die handsak. In Afrikaans beduie hy vir haar in watter ry sy eers moet staan en hy sal haar plek in die ry hou.

Drie ure later, na die dokumente geverifieer is, die betalings gedoen is en die kiekies geneem is, steek mevrou met die handsak haar hand na haar beskermer uit en glimlag dankbaar. Hy slaan sy arm om haar skouers en gee haar ‘n spontane drukkie.

Twee vreemdelinge wat kontak maak in omstandighede wat niks anders as ‘n potensiële bron van erge frustrasie is nie, stap daar uit as Namibiërs wat net ‘n bietjie anders na hul medemens kyk as vantevore. Dis goed dat ‘n mens een keer in vyf jaar verplig word om Binnelandse Sake toe te gaan.