|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
5.02.2010 ‘n Soeker op die wapad vind die Geboortedag
OP ‘n somersoggend redekawel geleerdes en ongeleerdes oor die geboortedag van Christus. Is 25 Desember dié dag? Of is dit vroeër of is dit later?
Nou om te wat? Die Pase lê voor met Goeie Vrydag en die Opstanding. Maar dit is nie elke jaar aan ‘n spesifieke dag of dae gekoppel nie. Verlede jaar was dit 10 en 13 April. Vanjaar is dit 2 en 5 April. Niemand stry nie. Vrind Ernst ken die stand van die sterre. Hy sê dis die hemelligte wat bepaal waar die Paasnaweek elke jaar gaan lê. En as my Kersfees en sy verwante seisoen nou in Januarie sou aanbreek? Ek was soos ‘n kruisvaarder in die vreemde. En ver van die stuitighede van die handel en die onbegryplike van al die vergrype was ek net ná skemer langs die Kaapse suidkus op een van die strande. Rolspelers in die realiteitsdrama van alle tye het verander. Pleks van ‘n krip was my plek van wyding ‘n motorkajuit in ‘n parkeerbaai feitlik teenaan die see. Die Suidkus se branders was die aand maar rustig. Asof in die uur gedeel word. Selfs die breek daarvan op ‘n silwerstrand was traag. Spreiligte van hoë maspale val tot diep oor die rollende see. Dit skep ‘n towerbeeld van ‘n mensgemaakte toegif tot die wonder van die skepping. Dit dien as getuienis van mensetalente wat nie begrawe is nie. ‘n CD draai en Andrea Bocelli sing Stille Nag. En ‘n datumlose wonder gryp my aan by die aanhoor van die Italiaan. Om daar te bly. Dis Kersfees. ‘n Groter golf is ‘n toehoorder waar dit met ‘n harder klapslag aan die kunstenaar ‘n kansie bied om sy glorie-asem weer ‘n teug te gee. Oor ‘n wang is daar ‘n klammigheid meer as die seedou wat oor die strandjie skuur. En die datumlose boodskap bly op die terugtog deur die Boland. So word in die Ceres-geweste stilgehou by ‘n perskesmous langs die wapad. Vra hom na die prys en hy sê vyftien rand vir ‘n kissie. In sy bestaanswroeging bestaan geen begrip vir korswel nie. Terwyl byna luimig oor die prys verskil word, gooi hy so ‘n gele vir afslag toe. En kyk na die gesonde gloed op die nog gesonder wang van die vrug. Dis die nagvog wat dit nog laaf. Maar die bruisende boodskap bly. En ek sê: “Die Paradys lê seker nie ver nie”. Voordag is dit aanstoot noord van die Gariep. Dis waar die belewenis van die Karasberge wag, want daar was reënvlae oor die dorsland. Nog nooit was ‘n aanloop so mooi nie. Tussen Noordoewer en Grünau breek ‘n effense bergieswêreld die verste horisonne. Vandag is daar ‘n wasigheid wat die kimlyn streeploos laat oorgaan in ‘n blou lug waar ‘n verre wolkie soos ‘n man se hand ‘n boodskap van belofte inhou vir die middag se stortreën ná al die bekende oorslaanjare. Die teertonnel deur die Karasberge strek oor so ‘n sewentig kilometer. Maar die oggend is dit ‘n korte tree op ‘n tog na ‘n ewigheid. Ysterklip en graniet het in die nag aan die hemel in wasem teruggegee van die oorvloed wat die vorige dag oor die hange uitgestrooi was. Dis miswolke wat die kruine en die spitse afkap. Dit klou aan die bergland soos die fraiings van ‘n groter kombers. Waar kom die watervoëls in die pannetjies langs die pad vandaan? En ek dink aan ‘n suigeling wat soos die berge op hierdie oggend in doeke toegedraai was. ‘n Knaap met donsige hare soos die uitgekamde vliese oor die berge. Dan die druiwekraampie by Mariental met ’n vraag na swart druiwe. Die antwoord kom met Osjikaans wat nog nooit so mooi was nie: “Die swalt dluiwe is kraal. Daals net losyntjies”. Ek is tuis. Ek het die tog onderneem, maar my pelgrim was die wapad. En ek hoor die Italiaan weer sing. Op die CD, maar ook in ‘n gemoed wat salf gaan soek het. Ek het die datum van die Geboorte gevind. |