|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
18.08.2010 ’n Land sonder baasspeurder of PI?
HOE meer ou Dapperrerige Daniëltjie dag in en uit deur die k’rante blaai, hoe groter groei die gedagtenis dat ons hier in Namibië miskien ’n bahôrlike baasspeurder skort. Net om finaal party duistere geheime in landsbelang te deurgrond en die dossiere van ’n paar groot, onopgeloste misdade uiteindelik toe te klap.
Iemand wat byvoorbeeld sommer lankal die hele affêre by die GIPF sou uitgepluis het… Sonder dat die publiek vyf jaar later nog aan ’n wilde en woeste geraai, geskimp en geskinder uitgelewer is. ’n Man, of vrou, wat die Ripper-legger sal sluit en klaar daai meesterbrein agter die grootste transitoroof in die land se geskiedenis in die selle sou hê? As die son sak, en die Dapper skuif voor die kassie in, of begint sukke laaaaang draaie in sy klapperdop stap, is ’n horde grotes van toenterjare en vandag net ’n voorarmlengte weg. Vat nou maar die legendariese Derrick daar uit die Duitsland vannie jare 70 en 90. Gespeel deur Horst Tappert, as jy nog kan onthou. ’n Hele 281 episodes lank het Derrick al wat ’n raaisel is gekraak. (Wonner of mens die hele lot op DVD kry? Met Engelse onderskrifte.) “One more thing,” sal ’n Peter Falk in die rol van luit’nant Columbo bly krap en krap tot die waarheid tot op die been oopgekloof is; dié man in die gekreukelde reënjas, al ewig aan’t trek aan sy sigaar en met ’n stokou, vaal tjor wat sulke rowwe rookdampe uitproes. Behalwe vir al die ouderwetse ikone, is Swede se Kurt Wallander, in Ingils gespeel deur die bekroonde Kenneth Branagh, die moderne era se melankoliese en eksistensialistiese superspeurder. Gaan tjek hom nou op BBC uit, as jou neutedorp-vistenk met die skottel werk. ’n Speurder, soek ons hier, net so vlymskerp soos dokter House langs ’n sterwende se hospitaalbed is? (“Is nié CSI nie!” trek ou Daantjie die teuels van die verbeelding net so effens in met dok Paul Ludik se berisping dat mens nie harde werklikhede en sepies deurmekaar mag roer nie.) Onse Sherlock hoef ook nie in diens van die staat te wees nie. Die Yanks het vir Magnum, sy dimpels en bloedrooi Ferrari met die opslaandeure, gehad. “I got him!” het Tom Selleck so graag in ons kinderdae uitgeroep, met Jonathan Quayle Higgins die Derde en sy Dobermans wat vandag nog iewers op die doek van ou-ou TV-herinneringe ook hul rolle volstaan. Toe ons klein was, wou sekerlik al die laaities wat nie brandweermanne wou word nie poeliesmanne wees? As dit nie meer vandag so is nie, is daar op sigself groot-groot ruimte vir nasionale selfondersoek? Suid-Afrika het darem vir Van der Merwe, blikbreinboffin Koos en klein Kosie (selfs al was hulle miskien nou nie watwonders nie); en Botswana vir Mma Precious Ramotswe. Sy’t selfs ’n kookboek. Hoogtyd dus dat Namibië se rolprentmakers, hul kommissie en dalk die nuwe base daar by die nasionale uitsaaier bietjie kopkrap oor onse eie baasspeurder. Of PI. Becker dalk, Neels Becker? (Nogal ’n koning van ’n rocker ôk, dié ou grote van die Korrupsiekommissie. As jy hom nie die ander oggend oor die draadloos vir Elvis hoor namaak het nie, het jy liederlik uitgemis!) Visser, kolonel Visser? Maasdorp, Abraham Maasdorp? Soveel name duik op, maar te veel van hulle is al verpligtend of vrywillig in ander jops… Of ’n heel nuwe, fiktiewe Adam of Eva? “It’s elementary, my dear Watson,” sal Holmes vir sy regterhand sê: “Elke land het ’n volkseie baasspeurder, of PI nodig. “Dit, Watson, is elementêr vir die kollektiewe sug na reg en geregtigheid!” |