|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
8.09.2010 ’K hou van ’n man wie se oog kan traan
DALK gaat ou Dapperrerige Daniëltjie nog eendag laaaaang trane oor hierdie enetjie huil?
Wat wou! Gaan ween daar innie hoekie, valse skaamtes wat so wild in so baie van onse kulture spook. Hierdie is ’n man wie se wange bahôrlik waternat kan raak. Nie met daai natuurlike balsem wat verhoed dat die ooglede aan die oogbolle vas roes en stowwerigheite en vir Bak en Terie uit die kykers weghou nie. Nee, susters. En veral die broeders. Die briefie vir jou dinkbus het volkome te make met die chemies heeltemal anderste branders wat hartseer én blydskap, minstens sover dit die skrywer aangaan, met die geheime natuurritme van die see self oor die rotse van die hardste hardebaard se kinnebak moet laat breek. Ou Daantjie byvoorbeeld, het alleen die laaste paar weke ’n hele rits goeie stortings van hierdie geneesdruppels ingekry. By klein Ben se skoolkonsert, tydens ’n TV-rugbywedstryd (dalk swem ou “Snorman” de Villiers se winkbroue ook maar in die Bokke se kleedkamer?), ’n dokumentêre program uit die dae van oorlog en struggle, ’n lekkerkyk-drama, plus ’n paar ander self beleefde en uitgesaaide tranetrekkers wat die verstand vir die oomblik ontgaan. Ôk maar man, loer ’n Bewoërrerige Daniëltjie laataand besorgd bevrees na die bank aan die teenoorgestelde kant van die donker sitkamer om te kyk of hy nie vir slapende Vroulief wakker snik met die groot oopdraai van die krane by die mooi einde van ’n fliek nie. Ná al die DVD-smarte voor dit – boonop wyeskermgroot – rol die pure verligting sommers in trane met tuite, soos die spreekwoord seg. In strome waarteen g’n veerlige snesie bestand is nie. Oukei, sy slaap nog, sug Daantjie verlig. Aan ’n verskoning soos dat iemand pas deur die oop skeufdeur op die stoep ’n traanbom die huis in geslinger het, sal niemand in die post-onafhanklikheidsvoorstad byt nie. (Hoe bevry ons werklik is, is ’n vraag wat elkeen maar vir homself moet uitpluis.) Moet assemblief tog nie vir ou Aansitterrerige Daniëltjie – beslis geen neulpot of tjankbalie nie – verkeerd verstaan nie: G’n mens behoort permanent triesterig en bedruk te wees nie. Die sak-in-as-begrafnisbakkies van ’n waansinnige Weltschmerz staan niemand aan nie. Dit sit al te maklik in krokodiltrane om? Net so kan geeneen egter sy lewe lank stroef en betjoiingsd opkrop nie? Om oormagtig te verknies, is slegte nuus. Selfs digter Jan F. E. Cilliers het erken dat ’n oog wat nie wyk en ’n barshou kan kyk, darem ook nog moet kan traan (al was dit nou doerie jare vir allerhande ander heldhaftige, ideologies redes). Hoekom dan nodig dat onse Adams ’n traan skelm uit die hoek van die oog moet wegpink; die sitkamerlig suutjies moet afkliek as ons ’n sekere soort “movie” opsit, of moet wakker lê of die hipotalamus miskien op die koffie is omdat ’n knop so maklik in onse kele skiet? Nee wat, is mos helende terapie. Medisyne beter as lewertraan. Maak nie saak of hierdie berading uit die tyd van die hiepies kom en ondersteuners deur party as ’n sekte uitgekryt is nie. Die uitvinder (“viva kameraad, viva!”) was behalwe vir al sy ander belangstellings nogal ’n vakbondleier… Groot of klein, ’n ligte huilbuitjie of propperse tranedal is goed vir die liggaamlike gesondheid én die siel. Peleton, sakdoeke uit! |