|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
24.08.2010 Werkloosheid hou pryse konstantDIE hoë werkloosheidsyfer wat werkersunies se bedingingsmag vir hoër salarisse negatief beïnvloed, die energieprys wat deurlopend dieselfde bly en die kans op oormaat produksie, kan daartoe lei dat die inflasiekoers vir die tweede helfte van vanjaar min verandering ondergaan.
Dit kan rentekoerse onveranderd laat bly, luidens die Voedselprysindeks wat maandeliks deur First Capital opgestel word. Volgens hul navorsing het die voedselprysindeks ’n jaar op jaar opwaartse neiging getoon en in Junie op 4,6% te staan gekom. “Die meer noemenswaardige bydrae hiertoe kom van mieliemeel nadat die meulenaars die pryse vroeg in Junie verhoog het. Dit het stapelvoedsel se indeks met 11,3 punte laat styg. Die sluiting van grense vir invoere na Namibië is grootliks hiervoor verantwoordelik,” sê First Capital. Die subindeks vir vleis en pluimvee het met 1,3 punte na 109,7 vanaf Mei na Junie toegeneem, maar het met 10,6% jaar op jaar verlig. Vanaf Januarie het hierdie indeks met 22,2% toegeneem. Individuele pryse van vark- en beesvleis het gemiddeld met 7.1% toegeneem wat tot die opwaartse neiging bygedra het, terwyl die prys van hoenderdye en -braaipakke van Mei na Junie met 4,2% gedaal het. Die sluiting van Meatco se abattoirs in Windhoek (September en Oktober) en op Okahandja (November en Desember) sal na verwagting die deurset verhoog, maar sal waarskynlik nie afwaartse druk op vleispryse plaas nie aangesien groot- en kleinhandelaars hul voorraad gedurende die sluitingsperiodes sal opbou. Die uitbreek van slenkdalkoors en die terughou van diere om kuddes te bou, sal volgens First Capital die prys van skaap- en bokvleis opwaarts druk. Die prys van mieliemeel het jaar op jaar met 1,7% toegeneem en sal na verwagting in September daal wanneer grense weer vir die invoer van graanprodukte uit die buiteland oopmaak. Rys se prys het in die tydperk vanaf Maart tot Junie geval – van 184,6 in April tot 181,9 in Mei voordat dit in Junie op 178,2 te staan gekom het. Jaar op jaar het die prys egter onveranderd gebly en sal na verwagting daal in die lig van prysverlagings in Colombia, Bangladesj en die Filippyne. Suiker se prys het jaar op jaar in Junie met 4,6% afgeneem, maar sal na verwagting in 2010-2011 weer toeneem wanneer Indië, die grootste produseerder, se vraag volgens vooruitskattings die aanbod gaan oortref. Vrugte en groente se prys het met 2,1% vanaf Mei vanjaar toegeneem. Die voedselprysindeks vir graankos, melk, eiers en olie het aan die einde van Junie jaar op jaar met 6,1% toegeneem. Brood se prys is 2,1% duurder as in Mei terwyl die hele kategorie se pryse in die afgelope jaar met gemiddeld 8,9% gestyg het. Melk se prys daal steeds nadat die belasting wat daarop gehef is, afgeskaf is. Die prys van twee liter vars melk is die hoofkatalisator in die subindeks vir melk en eiers, terwyl die prys van langlewemelk en eiers van April tot Junie met 1% gestyg het. Olie en vet se prys het met 1,6% vanaf Junie 2009 toegeneem nadat dit in April met 4 indekspunte gestyg het. Nie-alkoholiese drank se prys het met 4,9% jaar op jaar gestyg. |