|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
1.03.2010 Uraan “Namibië se stygende ster”
DIE president van die Bank of Namiba (BoN), mnr. Tom Alweendo, het met die aankondiging van die bank se monetêre beleid gesê 2010 behoort ’n goeie jaar vir Namibië te wees.
Met die uitreiking van die bank se ekonomiese oorsig vir die jaar word groei in byna al die sektore voorspel. Dit is veral die myn- en konstruksiebedryf wat blyk hierdie jaar die land se uitblinkers te wees. Ná ’n inkrimping van 48,3 persent gedurende die vorige jaar, kan die myn- en konstruksiebedryf volgens voorspelling in 2010’n groei van 15,2 persent beleef. Dit is as gevolg van ’n verwagte herstel in die produksie van diamante. Terselfdertyd word dit verwag dat die toename van produksie by die bestaande diamantmyne en die heropening van die kopermyne die nywerheid ook ’n hupstoot sal gee. Uraan word in die bank se ekonomiese uitkyk bestempel as “Namibië se stygende ster”. Tans word uitbreidingsplanne by twee van die uraanmyne in Namibië oorweeg en produksie sal na verwagting gedurende 2010 toeneem. Gedurende 2008 het Namibië 10 persent van die wêreld se uraanopbrengs geproduseer en die land is naas Kanada, Kazakhstan en Australië, op die oomblik die vierde grootste uraanprodusent in die wêreld. Dit wil voorkom asof Namibië hierdie posisie kan verbeter en die derde grootste uraanprodusent ter wêreld word met vier nuwe uraanmyne wat na verwagtinge in die medium-termyn in bedryf gestel sal word. Dit word ook voorspel dat uraan moontlik die diamantmynbedryf sal verbysteek met betrekking tot BBP-groei en werkskepping. Die diamantbedryf is veral gedurende 2009 se ekonomiese krisis hard getref. Op die kort tot medium termyn word dit verwag dat aanlandse bedrywighede sal afneem namate buitelandse bedrywighede ’n meer prominente rol begin speel. Die diamantmynbedryf sal volgens verwagtinge na ’n inkrimping van 58,2 persent, in 2010 ’n groei van 18,8 persent toon. Dit verteenwoordig ’n produksie-opbrengs van 1,1 miljoen karaat in 2010 en 929 000 karaat in 2009. Die konstruksiebedryf sal moontlik die jaar met tot 18 persent groei as gevolg van die verwagte toename in openbare en private projekte. Dit sluit die opgradering en die herstel van regeringsinfrastruktuur, die bou van die Ohorongo-sementfabriek, die uitbreiding van uraanmyne en die Namundjebo Plaza-hotel in. Hoewel sommige groei, veral in die landbou- en toerismesektor, voorspel word om moontlik die vrugte te pluk van die invloei van toeriste gedurende die 2010 Fifa Sokkerwêreldbekertoernooi, speel die toernooi nie so ’n groot rol in die land se groei vir die jaar nie. Die Namibiese ekonomie sal met ’n voorspelde 4,2 persent uitbrei gedurende die jaar, alhoewel die verwagte herstel grootliks van die herstel in die wêreld se ekonomie afhanklik is. |