|
Republikein
|
|
Vandag se koerant
Vandag se Spotprent Market indicators Bruidspaarkompetisie in volle swang Kollig 9 FebruarieDie Weer
Videonuus Finse universiteit skenk voertuie Videonuus Videonuus Die onkruid waai op Nkurenkuru Advertensie Kraakvars: Jou NSSCO-uitslae |
12.03.2010 Trafigura goed in Namibiese ekonomie ingegraweTRAFIGURA is nie net een van die grootste onafhanklike handelaars in olie en basismetale met invloedryke vennote in die internasionale mark nie, maar sy kantoor wat twee jaar gelede in Windhoek beslag gekry het, het intussen ook op ‘n wye front in plaaslike en streekmynbouprojekte betrokke geraak.
Plaaslike kundiges wat deel van dieTrafigura-span in Windhoek vorm, maak ook deel uit van ander internasionale mynbouprojekte waarby die maatskappy betrokke is. Die inligting het na vore gekom tydens ‘n onderhoud met die besturende direkteur van Trafigura in Windhoek, mnr. Deon Garbers. Hy het teenoor Republikein bevestig dat hy ‘n Namibiër in murg en been is en tydens sy onderhandelinge met Trafigura, kon hy hulle oorreed om hul Afrika-kantoor in Windhoek te vestig wat as middelpunt vir hul projekte in die streek sal dien. Dit op sigself hou groot voordele vir Namibië in deurdat plaaslike kundiges en diensverskaffers voordeel daaruit kan trek. Invloedryke internasionale handelsvennote van Trafigura, veral die in die olie- en petroleummarkte asook hernubare energie, biobrandstowwe, metale en metaalerts, kan in die toekoms ook in die sektore op die plaaslike terrein ‘n belangrike rol vervul. Die maatskappy is immers die derde grootste onafhanklike oliehandelaar in die wêreld (vyf persent van die wêreldmark) asook die tweede grootste onafhanklike handelaar in nie-ysterhoudende metale. Mnr. Garbers het aan Republikein gesê Namibië trek reeds voordeel deurdat Trafigura loodkonsentraat van die Rosh Pinahmyn en sink van die Skorpionmyn deur hul sake-eenheid vir metaalhandel in Lucerne, Switersland fasiliteer. Die hawens van Walvisbaai en Lüderitz word onderskeidelik daarvoor gebruik. Die maatskappy se wêreldwye belang in die oliemark lê daarin om fisies ‘n balans in die vraag en aanbod in die mark te behou. Om dit te kan doen, moet maatskappye oor die nodige infrastruktuur beskik om berging moontlik te maak. Wat dit betref, is Trafigura een van die grootste bergingsmaatskappye in die wêreld en verantwoordelik vir die berging van meer as 60 miljoen vate. Dit word gedoen deur middel van sy eie terminale onder sy PUMAnetwerk asook langtermyn huurooreenkomste wat dit met derde partye gesluit het. In Angola is infrastrukture reeds gevestig of in die proses van vestiging in Luanda, Lobito, Malange en Huambo. Met hul vennootskappe met internasionale rolspelers in die brandstofverbruik, het mnr. Garbers verduidelik, kan Trafigura ook as tussenganger optree om Namibië te ondersteun om goedkoper brandstof deur die Angolese brandstofverspreider, Sanangol te bekom. Volgens hom is Sanangol ‘n goed gevestigde maatskappy wat as internasionale verspreider van brandstof oor die nodige infrastruktuur beskik. Hulle is op die oomblik besig met die oprigting van ‘n raffinadery en sal baie graag ook ‘n handelsvloei van petroleumprodukte na Namibië wil deurvoer. “Sover ek weet, het Sanangol ‘n ope uitnodiging gerig om met Namibië daaroor te onderhandel. Op hierdie wyse sal hulle ook die suidelike dele van Angola van ‘n beter, algemene diens kan voorsien,” het mnr. Garbers gesê. |