25.07.2008 Portefeuljebestuurder skilder positiewe scenario
DAAR is lig aan die einde van die tonnel vir verbruikers met positiewe aanduidinge dat die begin van die einde van hoë rentekoerse en stygende inflasie in sig is. Dit blyk uit ‘n oorsig wat die portefeuljebestuurder van die Ou Mutual Beleggersgroep, mnr. Urvesh Desai, oor die ekonomie gelewer het. Laer inflasie van tussen drie en ses persent word vir die derde kwartaal van 2009 voorspel en daar is selfs die moontlikheid dat rentekoerse in die tweede kwartaal van 2009 kan begin daal.
Verbruikers moet hulle egter voorlopig nog staal aangesien verwag word dat die rentekoers sy piek rondom die 13,5 persent binne die volgende paar maande kan bereik. Mnr. Desai voorspel dat die afwaartse wending in rentekoerse geleidelik sal wees en nie oornag verligting sal bring nie.
Groot uitdagings soos stygende elektrisiteitspryse, hoë inflasie en hoë salarisverhogings, wat op die korttermyn die ekonomie stimuleer, maar op die langtermyn ‘n negatiewe inflasionêre impak kan hê, lê nog voor. In die verband is Namibië in ‘n beter posisie as Suid-Afrika omdat salarisverhogings in Namibië gemiddeld laer as in Suid-Afrika was.
Dit het daartoe bygedra dat die Bank of Namibia verskeie kere reeds nie nodig gehad het om die repo-koers te verhoog as die Suid- Afrikaanse Reserwebank dit moes doen nie. Dit is ook goeie nuus vir die langer termyn inflasievooruitsigte vir Namibië.
Hy meen dat ‘n verdere verstadiging in ekonomiese groei onafwendbaar is, maar gee die gerusstelling dat nie Suid-Afrika of Namibië ‘n resessie in die gesig staar nie. “Met die ekonomie wat nou ten volle vrede gemaak het met die hoë rentekoers en ook die impak van inflasie ingereken het in stappe wat vir 2009 in die vooruitsig gestel word, is die Suid-Afrikaanse Reserwebank minder geneig om koerse verder te verhoog,” het mnr. Desai verduidelik.
“Daar is ook ‘n groeiende opvatting dat Suid-Afrika voor ander ontwikkelende mark ekonomie in die pynlike aanpassingproses van hoër globale inflasionêre druk kan wees. Waar sommige sentrale banke stadig was om rentekoerse te verhoog, was die Suid-Afrikaanse Reserwebank nie, dus het die land in die aanpassingsproses goed gevorder.
Dit het die rand in ‘n sekere mate laat verstewig.” Tog waarsku hy dat onvoorsiene eksterne faktore altyd teenwoordig sal wees. Indien die prys van ruolie tot US$150 per vat styg, kan dit vir die ekonomiese vooruitsigte uiters nadelig wees. Mnr. Desai het ook daarop gewys dat kontant ‘n groot bate bly, maar tog nie die werklike groei wat noodsaaklik is vir die beplanning van aftrede kan voorsien nie.
Die Ou Mutual Beleggingsgroep het ‘n aantal van sy portefeuljes so geposisioneer dat dit gelyste eiendomme, korporatiewe effekte en voorkeuraandele insluit. Hierdie bates voorsien kapitale groei en beskerming en bied boonop dividend-opbrengste vir beleggers. Dit word verwag dat die mandjie beleggings ‘n voorspelde opbrengs van ongeveer 11,4 persent oor die langtermyn kan oplewer.
|