24.08.2010 Tragedie in sjebeen
 ’n Verpleegster en polisiebeamptes by die oorskot van ’n persoon wat op slag deur ’n ligte vragmotor gedood is toe dit deur ’n sjebeen langs die pad tussen Oshikuku en Outapi gebars het. Vyf ander mense is tydens die ongeluk ernstig beseer. Die plastiekstoele en banke waarop die ses mense gesit het, was oor die toneel gesaai. Onder die boom in die agtergrond is ’n non besig om familielede en vriende van die oorledene te vertroos.
EEN persoon van die noorde is dood en vyf ander ernstig beseer toe ’n ligte vragmotor deur ’n sjebeen langs die pad tussen Outapi en Oshikuku gebars het.
Die ongeluk het gister omstreeks 13:00 gebeur toe die bestuurder van die Kia-bakkie wat sakke sement vervoer het, in ’n skerp draai beheer verloor het.
Dit is die tweede ongeluk van die aard wat sedert die naweek aangemeld is. In die eerste ongeluk Saterdagnag is die sesjarige Elisabeth Ndapewa Nashuuta in Windhoek se Otjomuise-woonbuurt dood en haar ma beseer toe ’n bakkie, wat aan ’n konstruksiemaatskappy behoort, by hul blikhuis ingebars het. Voor die bakkie die huis van jong Elisabeth getref het, het dit dwarsdeur ’n ander blikhuis gejaag.
 Die voertuigwrak.
Vinnige optrede deur nonne verbonde aan die Rooms-Katolieke hospitaal in die Oshitutuma-nedersetting het waarskynlik die lewens van die vyf mense gered wat in die ongeluk in die noorde beseer is.
Die ongeluk het nagenoeg 500 meter van die hospitaal plaasgevind en die nonne kon op die toneel noodhulp toepas voor die beseerdes per ambulans na die hospitaal op Oshikuku geneem is.
Die sjebeen waar die mense langs die pad gesit het, was bloot ’n afdak wat koelte aan besoekers bied en dit was in die padreserwe, taamlik naby aan die teerpad, gebou.
Honderde omstanders het op die toneel vergader. Die mense het kommer uitgespreek oor roekelose bestuurders op Namibië se paaie, maar ook tradisionele leiers gekritiseer omdat hulle grond in die padreserwe aan sjebeeneienaars toeken.
“Hierdie sjebeens is duidelik in die padreserwe en boonop by ’n skerp draai,” het ’n omstander gesê.
Op die toneel is geen padversperrings om te keer dat die voertuie in die geboue langs die pad inry nie. Die streekraadslid van die Oshikuku-kiesafdeling, mnr. Peter Endambi, het gesê:
“Die tersaaklike owerhede, insluitend my kantoor en die van die Paaieowerheid, het verskeie kere sedert die 1990’s met inwoners vergader en hulle versoek om die sjebeens te verskuif.
“Dit is besluit dat daardie sjebeens nie daar mag wees nie. Voertuigbestuurders word ook voortdurend gewaarsku om versigtig te ry,” het hy gesê.
Volgens hom het minstens agt motorongelukke die afgelope jare by die Oshitutuma-draai gebeur, waarvan die meeste noodlottige gevolge gehad het.
 ’n Meisietjie van ses, Elisabeth Ndapewa Nashuuta, is Saterdagaand in dié huis dood toe die bakkie in die middernagtelike ure daar deur geploeg het. Die bestuurder het van die toneel weggevlug en word steeds deur die polisie gesoek.
Intussen soek die polisie van Windhoek steeds na die bestuurder van die bakkie wat Saterdagaand deur die huis van klein Elisabeth Nashuuta en haar ma gebars het.
Die persoon het na die ongeluk van die toneel weggevlug en kon nog nie opgespoor word nie.
Volgens inspekteur Kauna Shikwambi van die polisie se skakelafdeling in Windhoek weet die ondersoekbeamptes wie die persoon is wat die bakkie bestuur het. Sy het gesê die beamptes het aangedui dat die persoon binnekort in hegtenis geneem sal word.
Soos in die geval van die ongeluk die noorde het die blikhuise in Otjomuise taamlik naby aan Kitchenerstraat gestaan sonder enige versperrings wat beskerming bied. Die twee huise wat in die ongeluk verwoes is, word deur ander baksteenhuise met erfmure daarom omring.
|