
Jonas Nangolo (onder) van Okahandja was uit op borg in ’n ander veediefstalsaak toe hy verlede week in hegtenis geneem is nadat hy na bewering drie Bonsmara-verse op ’n plaas 15 km vanaf die Tuindorp gesteel het. Hy het die verse se sterte en hakskene met ’n panga gekap om te keer dat hulle weghardloop. Daarna het hy die beseerde diere aangekeer na sy huis aan die buitewyke van Okahandja.
NOG ’n vermeende veedief is op Okahandja vasgetrek nadat ’n boer van die omgewing die spore van drie Bonsmara-verse wat van sy plaas verdwyn het, gevolg het tot waar die diere met stukkend gekapte agterbene aan die buitewyke van die dorp gevind is.
Die man wat die verse na bewering gesteel het, woon ’n paar honderd meter van waar die diere gevind is. Jonas Nangolo, wat verhoorafwagtend is in ’n ander veediefstalsaak, is in hegtenis geneem toe hy vir die polisie probeer weghardloop het. Hy het geval en is in die proses beseer.
Mnr. Gert du Plessis sê hy het die verse enkele dae voordat dit gesteel is op ’n veiling van Karoo-Osche gekoop. Hy het onraad vermoed toe hy opgemerk het ’n grensdraad op sy plaas is geknip.
“Gelukkig het dit die vorige dag gereën en ons kon die spore maklik in die nat grond volg.” Mnr. Du Plessis sê die vermeende veedief het die diere se sterte en hakskeensenings met ’n panga gekap om te keer dat hulle weghardloop.
“Volgens die spore het nog twee persone hom gehelp om die beeste aan te jaag tot net buite die dorp.”
Nangola woon in ’n informele nedersetting aan die buitewyke van Okahandja. Die beeste is gevind naby die teerpad wat uit Okahandja na die vliegveld suidwes van die dorp lei. Volgens mnr. Du Plessis het veediewe twee weke tevore ook beeste op sy plaas gesteel.
Die beeste is nooit teruggevind nie en niemand is ook in verband met die diefstal in hegtenis geneem nie. Sy vrou, Yolande, sê wat haar ontstel is dat Nangolo in die ander saak teen hom sonder meer op borgtog vrygelaat is.
“En terwyl hy uit is op borgtog, steel hy maar net verder.”
Die polisie op Okahandja voer reeds maande lank ’n stryd teen veediefstal op plase in dié misdaadgeteisterde omgewing.
’n Groot beesdiefstalsindikaat wat vermoedelik reeds honderde beeste op plase by Okahandja gesteel het, is sowat drie weke gelede in samewerking met speurders van Otjiwarongo, Kalkfeld en Grootfontein oopgevlek. Sewe mans is reeds in hegtenis geneem en die vermoede is dat nóg lede van dié sindikaat vasgetrek sal word.