
Minister Saara Kuugongelwa-Amadhila.
DIE Regering heroorweeg sy omstrede wysigings aan wetgewing om kapitaaluitvloei te strem deur batebestuurders te dwing om ’n groter gedeelte van die sowat N$90 miljard wat Namibiërs reeds vir hul oudag gespaar het, ten koste van beter opbrengste plaaslik te belê.
Me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, Minister van Finansies, het die week self die vrese van die bedryf besweer toe sy, instede van Adjunkminister Tjikero Tweya, onverwags by die Namibiese Instituut vir Aftreefondse (RFIN) se algemene jaarvergadering opgedaag het. Sy kyk na ’n paar “aanpassings van die wysigings” van regulasies 28 en 15 van die Pensioenfonds en die Wet op Langtermynversekering, wat onlangs in die Staatskoerant verskyn het, het die Minister gesê. Sy wou egter nie oor die “aanpassings” uitbrei nie.
“Hoewel ek nie kan onderneem dat alle voorstelle uit die bedryf aanvaar sal word nie, sal dit ernstig oorweeg word,” het Min. Kuugongelwa-Amadhila verseker. Mnr. Hartmut Ruppel, voorsitter van die trusteeraad van die Regeringsdienspensioenfonds (GIPF), het gesê hy vermoed dit raak die wysigings dat net tien persent van batebestuurders se beleggings in dubbelgenoteerde aandele op die Namibiese Aandelebeurs (NSX) plaaslike status geniet en dat hulle verplig is om minstens vyf persent in ongenoteerde ondernemings in Namibië te belê.
“Dit sê baie van die Regering, en spesifiek die Minister van Finansies, dat hulle bereid is om die veranderinge te heroorweeg wat die gewysigde regulasie 28 teweeg moes bring,” het mnr. Ruppel gesê. Hy het daarop gewys dat pensioenfondse die reg van hul lede op aftreevoordele moet beskerm.
“Met dit in gedagte moet ons die versoeking weerstaan om beleggings in bateklasse, beleggingsinstrumente en ondernemings te maak of goed te keur wat nie aan die fundamentele vereistes van aftreefondsbeleggings voldoen nie – ongeag hoe belangrik of verdienstelik dit is,” het mnr. Ruppel gesê. Hy het egter dadelik bygevoeg dat daar niks mee verkeerd is om met omsigtigheid in bates te belê wat normaalweg nie vir direkte beleggings geskik is nie – mits dit deur gerespekteerde en gespesialiseerde tussengangers soos onder meer die Development Bank of Namibia (DBN) of die National Housing Enterprise (NHE), asook regerings- en korporatiewe effekte geskied.
Die sleutel is trustees wat ingeligte besluite neem en die advies van onafhanklike beleggingskonsultante vra, meen mnr. Ruppel. Me. Kuugongelwa-Amadhila het opnuut verseker dat die wysigings in fases geïmplementeer sal word. Hoewel dit noodsaaklik is dat pensioengeld tot die ekonomiese ontwikkeling van die land moet bydra, is dit eweneens belangrik dat die bedryf beskerm word en gesond bly, het sy beklemtoon.