17.5.2012
 Argiewe:

Vandag se koerant


Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


16 Mei 2012

SUPERMAAN


30 Bruidspare gekies


Suiderland 15 Mei

Kollig 10 Mei

Die Weer


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

19.09.2007

Ongwediva se strategiese plan werp vrugte af

DIE Ongwediva-dorpsraad se vyf jaar strategiese plan om beleggers na die noordedorp te lok, was 'n groot sukses, het die dorp se burgemeester, mnr. Erastus Uutoni, die naweek gesê toe hy inwoners van die Hanover- en Prestige-woonbuurt toegespreek het.
Die vergadering was gereël om die algemene ontwikkeling van die dorp, tariefaanpassings vir die jaar 2007/2008, die skut van rondloper diere, die registrasie van inwoners en misdaadvoorkoming te bespreek.
Oor die dorp se ontwikkeling was mnr. Uutoni van mening dat Ongwediva van 2002 tot 2007 daarin geslaag het om belangrike beleggers te lok. "Ons is tussen twee groot dorpe, Oshakati en Ondangwa, geleë waarteen ons nie wil en kan kompeteer nie. Oshakati en Ondangwa beskik oor groot besighede en nywerhede. Ons het daarom besluit om op ons eie manier te ontwikkel, om iets anders te doen en dit is om die diensleweringsektor te lok. Ons het daarin geslaag," het hy gesê en verwys na 'n moderne private hospitaal en 'n vermaaklikheidspark wat onlangs op die dorp geopen is.
"Daar is tans 25 lodges in Ongwediva asook verskeie eiendomsagente en argitekte," het hy gesê.
Volgens hom is die N$24 miljoen David Shikomba Besigheidspark, wat onlangs deur President Hifikepunye Pohamba geopen is, nog 'n bewys dat die strategiese plan die nodige vrugte afgewerp het.
Projekte wat tans aan die gang is, sluit in 'n handelsentrum langs die Medipark hospitaal; die streekkantoor van die Motorvoertuig-ongelukfonds, 'n polisiestasie, en Unam se fakulteit van ingenieurswese.
Mnr. Uutoni het gesê dat daar verskeie besighede is wat van Oshakati na Ongwediva verhuis. Hy is van mening dat dit hoog tyd is dat Ongwediva 'n landdroskantoor en eie voertuig-registrasienommers moet kry.
Hy het ook die inwoners ingelig oor projekte wat onlangs afgehandel is, insluitend erwe in uitbreiding elf wat gediens is en wat reeds te koop aangebied word. "Sowat 100 erwe is reeds verkoop, 'n bewys dat die aanvraag vir huise in Ongwediva baie hoog is."
Hy het ook uitdagings wat die dorpsraad in die gesig staar opgenoem. Dit is meestal stofstrate waaroor inwoners voortdurend kla, maar waarvoor die dorpsraad nie genoeg geld het om te teer nie.
Oor diere het hy gesê die dorpsraad het daarin geslaag om dierebewegings in die dorp tot 'n minimum te beperk, maar daar is steeds varke en rondloper honde wat die inwoners terroriseer.
Nog 'n uitdaging is om inwoners van die "Reception Area" van water, krag en toiletgeriewe te voorsien.
Volgens mnr. Uutoni gaan die dorpsraad met inwonersregistrasie begin om meer te weet oor die presiese aantal inwoners van die dorp. Elke sterfgeval en geboorte moet ook by die dorpsraad aangemeld word. "Dit sal ons help om beter vir die toekoms te beplan," het hy gesê.
Hy het ook 'n klein styging in die munisipale tariewe aangekondig, waarna die streekbevelvoerder van die polisie, adjunk-kommissaris Ndhangwapo Kashihakumwa, die inwoners toegespreek het oor misdaadvoorkoming.

Placido Hilukilwa op Ongwediva