3.12.2008

Namfisa verbind hom tot Visie 2030

© Francios Olivier
Namfisa, die waghondliggaam van finansiële instellings in Namibië, tydens die oorhandiging van N$250 000 aan die Namibiese Skool vir Rekeningkunde Gegradueerdes (NGSA). Links staan mnr. Rainer Ritter, hoof uitvoerende beampte van Namfisa, me. Patty Karuaihe-Martin (langs hom), voorsitter van NGSA, dr. Tjama Tjivikua (derde van regs), rektor van die Politegnikum van Namibië en mnr. Tjikero Tweya (heel regs), Adjunkminister van Finansies, tydens die oorhandigingsgeleentheid.
’n BESOEK aan die Minister van Finansies deur mnr. Rainer Ritter, hoof uitvoerende beampte van Namfisa, het daartoe gelei dat die Namibiese Skool vir Rekeningkunde Gegradueerdes (NGSA) die ontvanger van ’n bedrag van N$750 000 geword het. Namfisa, die waghondliggaam vir finansiële instellings in Namibië, het hom daartoe verbind om vir die volgende drie jaar N$250 000 jaarliks aan NGSA te skenk.

Mnr. Ritter het gesê die besluit om hierdie skenking te laat realiseer, het gevolg nadat die Minister van Finansies Namfisa versoek het om by die opleiding van rekenmeesters in die land betrokke te raak. Mnr. Ritter het tydens die oorhandingsgeleentheid van die eerste N$250 000 klem gelê op die belangrikheid van opvoeding, veral op die gebied van rekeningkunde.

Hy sê Namibië het meer as 200 geoktrooieerde rekenmeesters, “maar dit is nog nie genoeg nie. Na aanleiding van die huidige ekonomiese toestand en hoe dit na verwagting in die toekoms kan lyk, moet nog meer Namibiërs opgelei word,” het hy gesê.

Die Adjunkminister van Finansies, mnr. Tjikero Tweya, het by die oorhandiging ’n toespraak namens die Minister voorgelees. Hy het sy en die Minister se trots op die gegradueerdes bekendgemaak, maar ook klem gelê op die feit dat opvoeding alleen nie die antwoord is nie. “Ja, naskoolse opvoeding is belangrik en Namibië het ’n akademies opgevoede nasie nodig om Visie 2030 suksesvol te bereik.

Ek wil net hê die studente moet ook besef dat die korrekte gesindheid ’n belangrike rol speel en ook positief bydra tot die sukses van jou loopbaan. Dit help nie jy het die opvoeding nie en het nie die gesindheid om dit suksesvol toe te pas nie.

"Die vraag is dus of jy jou geleerdheid kan toepas onder maatskappybeleid. ’n Maatskappy sal jou aanstel op grond van jou kwalifikasies, maar dieselfde maatskappy sal jou afdank as jy nie die maatskappy se reëls en regulasies eerbiedig nie.

Dit is waarom die regte gesindheid so belangrik is,” het hy gesê. Hy het ook namens die Minister sy dank teenoor en trots op Namfisa uitgespreek. “Baie dankie vir jul by drae en verbintenis tot die toekoms van Namibië.

Julle stel ’n groot voorbeeld vir ander maatskappye en instansies en dit is ’n uitnodiging aan ander instellings om dieselfde paadjie te volg tot die ontwikkeling van die Namibiese volk om ’n goeie toekoms vir die land te verseker,” het mnr. Tweya gesê.