|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
24.01.2012 MTC betwis waghond se belstraf
VERSUIM om gewysigde diensvoorwaardes vir sy Aweh Awehprodukte op MTC se webwerf te lys, het die selfoonreus sowat N$27 500 uit die sak gejaag.
Die uitbetaling was egter nie genoeg om die nuwe Regulerende Owerheid vir die Kommunikasiebedryf (CRAN) te oortuig om die lippe oor sy tande terug te trek nie. MTC betwis ’n string bykomende bevele deur die waghond. CRAN het reeds vroeg in Desember opdrag gegee dat die maatskappy binne 48 uur op sy webwerf en opnuut per SMS verskoning moes vra en verbruikers kans moes gun om verdere eise in te dien. MTC is ook opdrag gegee om weekliks aan CRAN verslag te doen oor die besonderhede van eise, terugbetalings en redes vir die weiering van eise – totdat die saak bevredigend ter ruste gelê is. Die tameletjie is die gevolg van ’n klag op 4 November deur die Namibiese Verbruikerstrust (NCT) dat MTC nie die vermindering in Oktober van Aweh Aweh se gratis beltyd tussen 22:00 en 06:00 van 100 na 50 minute per dag op sy webwerf aangedui het nie. MTC het die regstelling eers op 7 November gedoen toe hulle ’n afskrif van die klag ontvang het. Aan CRAN het MTC geskryf dat die 100 minute-drumpel juis ingestel is omdat ’n heeltemal onbeperkte, gratis bellery diensgehalte teen Oktober 2010 vir ander kliënte begin benadeel het. Na bewering het mense mekaar selfs gebel sonder om ’n woord te rep. Ondanks die opgradering van toerusting het die veranderde voorwaardes verlede jaar met die oorgang na somertyd hernude ongerief veral tussen 22:00 en 23:00 vir ander bellers begin veroorsaak. Dit is hoekom MTC die drumpel tot 50 minute verminder het eerder as om die diens heeltemal te beëindig, aangesien net 18% van verbruikers meer as dit gebel het. CRAN is ingelig dat hierdie een van die aanloklikste dienste in Afrika bly en dat 82% van kliënte steeds minder as 50 minute gebruik. Volgens mnr. Tim Ekandjo, MTC se woordvoerder, is Aweh Aweh en Aweh Lite die maatskappy se gewildste vooruitbetaalprodukte. Op 11 November is die waghond ingelig dat 1 735 verbruikers reeds met N$27 448,07 vergoed is vir die oorsig op die webwerf. Die waghond het dit as versagting in ag geneem. NCT wou egter weet watter bewyse daar is dat mense wel vergoed is en dat meer bellers nie miskien ingeloop is nie. Die trust het aangedring op ’n “duidelike boodskap dat die misleiding van die verbruiker nie geduld sal word nie.” CRAN het saamgestem dat die metode wat gebruik is om terugbetalings te doen, onduidelik was. “Verbruikersbeskerming lê aan die hart van die kommunikasiewet,” het die waghond in sy uitspraak op 2 Desember benadruk. Die indruk wat op die webwerf geskep is dat mense steeds 100 gratis minute per dag kry, was volgens CRAN inderdaad misleidend. Ekandjo het beklemtoon dat MTC alle kliënte betyds per SMS van die veranderinge ingelig het. Volgens hom is die fout op die webwerf “dadelik raakgesien en reggestel.” Hy het benadruk dat die rekenaarstelsel gebruik is om alle kliënte te identifiseer wat meer as 50 minute gebruik het totdat die webwerf op datum gebring is. Al die mense is volgens MTC reeds op 18 November vergoed – ongeag of hulle bewus was van die verandering of nie. Dit, beklemtoon MTC, is alles afgehandel voor CRAN se uitspraak. “MTC vra verskoning dat die webwerf nie betyds op datum gebring is nie,” sê Ekandjo in ’n nuusvrystelling, “en aanvaar verantwoordelikheid vir die ongerief wat kliënte dalk ondervind het.” Luidens die maatskappy was hy besig om na ’n nuwe webwerf te migreer. “Dit is die enigste fout wat ons gemaak het,” sê MTC. “Verbruikers staan sentraal in ons besigheid, daarom het ons mense terugbetaal.” Ekandjo het die NCT bedank dat hulle die glips raakgesien het. |