|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
26.02.2010 Mobiele vulstasies ’n nuutjie![]() Die Nasionale Petroleumkorporasie (NAMCOR) het Woensdag ’n unieke konsep, die Petrotek vulstasie in ’n vraghouer, bekendgestel wat brandstof aan die uithoeke van Namibië gaan verskaf. V.l.n.r. is die besturende direkteur van NAMCOR, Sam Beukes, die Minister van Myne en Energie, mnr. Erkki Nghimtina, en die voorsitter van NAMCOR, dr. Tobie Aupindi.
DIE Nasionale Petroleumkorporasie (NAMCOR) het Woensdag ’n unieke konsep, die Petrotek-vulstasie in ’n vraghouer, bekendgestel wat brandstof aan die uithoeke van Namibië gaan verskaf.
“Ek het geen twyfel dat die projek werkgeleenthede, veral in landelike gebiede, gaan bevorder nie,” het die Minister van Myne en Energie, mnr. Erkki Nghimtina, namens Pres. Hifikepunye Pohamba gesê. “Die private sektor moet meer ondernemend wees om ’n doeltreffende rol as die enjin van ekonomiese groei te speel.” NAMCOR sal die brandstof verskaf en Petrotek die vraghouers met albei se embleme op die vraghouers. Oor die volgende drie tot vyf jaar gaan die eenhede soos sampioene oor Namibië se landelike gebiede opskiet en verligting aan landelike gemeenskappe bring deur die beskikbaarheid van brandstof by hul voordeur, volgens die besturende direkteur van NAMCOR, mnr. Sam Beukes. Die doel is om dienste (brandstof) na die mense te bring, het hy gesê. “Die projek verteenwoordig NAMCOR se strategiese doelwit vir die verkryging van publieke private vennootskappe. Petrotek is nie net ’n goed gebalanseerde Namibiese entiteit nie, maar verteenwoordig die geleentheid vir sakelui om in die olienywerheid te deel.” Mnr. Nghimtina het voorts gesê dat hy nie twyfel dat NAMCOR suksesvol sal wees in sy mandaat om ’n positiewe rol te speel in beide stroomop en stroomaf sake-aktiwiteite in die energiesektor nie. Met die koop van BP se depot op Otjiwarongo het NAMCOR tot die groothandelsektor toegetree. Nou met die vulstasie in ’n vraghouer kan NAMCOR ook die kleinhandelsektor betree. “Die vulstasie in ’n vraghouer bied ’n innoverende antwoord,” het mnr. Nghimtima gesê: “Die vulstasies is ten volle selfbesturend, vervoerbaar en kos baie minder as konvensionele vulstasies. Landelike gemeenskappe sal ook nou koste kan bespaar op lang afstande wat voorheen gery moes word om brandstofprodukte te koop.” Die voorsitter van Petrotek, dr. Tobie Aupindi, het ook klem gelê op die voordeel van mobiliteit van die vulstasies in ’n vraghouer. “Die mobiele vulstasie kan beweeg waar die mark is.” Nog ’n voordeel is dat die vulstasie meer omgewingsvriendelik is met geen pyplekkasies en ondergrondse brandstofberging nie. “Die volgende beste ekonomie behels omgewingsbeskerming en -veiligheid.” Hy het ’n beroep op Namibiërs gedoen om deel te neem aan die geleentheid, wat veral agtergeblewe gemeenskappe sal bevoordeel. Die vulstasie-vraghouers is in tien tot veertig voet grootte beskikbaar met die grootste een wat ’n volume van tot 60 000 liter beslaan. ’n Kantoor kan ook deel van die vraghouer vorm. Die vraghouers is beskikbaar in ’n enkel- of dubbelkamertenk (vir petrol en diesel) en kan een of twee pype by die pomp akkommodeer. Voordele wat die vulstasies in ’n vraghouer inhou, is onder meer lae infrastruktuur en aanvanklike insetkoste van N$1,9 miljoen vir ’n 60 000 liter vulstasie; die vulstasie is drie ure na aflewering operasioneel; lae omgewingsrisiko’s, want die tenks is bogronds; lae oorhoofse operasionele en bestuurskoste en die vulstasie kan maklik verskuif word. ’n Opedag sal Saterdag vanaf 12:00 by NAMCOR plaasvind waar belangstellendes meer kan uitvind oor die vulstasie in ’n vraghouer. |