|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
2.02.2011 Koolstof-permitte soekIN ’n bisarre ontwikkeling in die koolstofmarkte het twee miljoen koolstofpermitte die afgelope twee weke uit die Europese koolstofmark weggeraak. Dit blyk dat kuberkrakers vir van die verdwynings verantwoordelik was.
Die eerste voorvalle het voorverlede week kop uitgesteek toe ’n koolstofhandelaar in die Tsjeggiese Republiek aangemeld het 475 000 van sy koolstofpermitte is weg en na Estland oorgedra. Die totale waarde van die koolstofpermitte wat verdwyn of gesteel is, word op sowat €29 miljoen geraam, het Bloomberg New Energy Finance berig. Die totale omset op die Europese koolstofmark was verlede jaar €90 miljard. Die Europese koolstofmark het die verhandeling van koolstofpermitte in ’n aantal lande gestaak en hul koolstofregisters is gesluit totdat verseker kon word dat voldoende sekuriteitsmaatreëls ingestel is. Die lande waaruit koolstofpermitte verdwyn het, is Oostenryk, Griekeland en die Tsjeggiese Republiek. Die Tsjeggiese koolstofregister gaan luidens Bloomberg nog ses weke of langer gesluit bly. Amptenare het bevind 14 van die 27 EU-lidlande het nie voldoende sekuriteitsmaatreëls vir hul koolstofregisters nie. Kritici gebruik die voorval as nog ’n voorbeeld waarom die koolstofmark nie ’n doeltreffende manier is om kweekhuisgasvrystellings te verminder nie. Gregor Paterson-Jones, uitvoerende hoof van Sterling Waterford Securities, sê dit is ’n rekenaarveiligheidskwessie eerder as ’n bedryfskwessie. “Die koolstofmark is veral in die EU tot dusver baie suksesvol om die kweekhuisgasvrystellings deur nywerhede te meet en die vermindering daarvan op te dwing. Meer kan gedoen word, maar dit het te doen met die werklike teikens wat gestel word eerder as met die meganisme waardeur die verminderings gereguleer word. Die markmeganisme is baie suksesvol om ’n platform te skep vir ontwikkelde ekonomieë om in die groen-projekte van ontwikkelende ekonomieë te belê.” Sterling Waterford het ’n koolstofkrediet-skuldbrief wat in rand op die JSE verhandel wat deur ’n kontrak met BNP Paribas in Londen onderskryf word. Hy benadruk die diefstal van die EU-koolstofpermitte het geen uitwerking op dié beleggingsinstrument nie. Boonop is dit net die kontantmark-gedeelte van die Europese koolstofmark waarvan verhandeling tydelik gestaak is. Die meeste verhandelings in die koolstofmark vind in die termynkontrak-mark plaas, sê Paterson-Jones. Emily Tyler, onafhanklike konsultant en klimaatsveranderingsekonoom, sê dit kon in enige finansiële mark gebeur het wat nie voldoende sekuriteitsmaatreëls het nie. Sy meen die voorval kan die nasionale tesourie se saak sterk om voorkeur te gee vir ’n koolstofbelasting eerder as ’n koolstofverhandelingsmark. Kevin James, uitvoerende hoof van Global Carbon Exchange, sê die probleem met ’n koolstofbelasting, soos reeds gesien met die koolstofbelasting op nuwe voertuie wat verlede jaar in Suid-Afrika ingestel is, is dat dit blykbaar net as nog ’n inkomstestroom beskou word wat die staatskoffers aanvul. James glo dus die koolstofverhandelingsmark met al sy gebreke is steeds ’n beter manier om uiteindelik kweekhuisgasvrystellings te verminder omdat dit projekte finansier wat positief is vir die omgewing. Ontwikkelende lande soos Suid-Afrika behoort die geleenthede van die VN se Skoon Ontwikkelingsmeganisme en ander vrywillige skemas te benut om finansies, vaardighede en tegnologie van ontwikkelde lande te verkry vir volhoubare ontwikkeling, sê James. Hy glo die vrywillige koolstofmark in Afrika behoort beter bemark te word omdat dit toegankliker is. Die vraag na vrywillige koolstofkrediete neem voortdurend toe danksy maatskappye wat koolstofneutraal wil word. Suid-Afrikaanse maatskappye het ’n groot vraag na koolstofkrediete, maar bitter min is beskikbaar. – Sake24 |