Kommunikasietegnologie 'n swak skakel, sê Mbumba

DIE swak prestasies van leerlinge in wetenskap en wiskunde is deur die Minister van Onderwys, mnr. Nangolo Mbumba, as die hoofrede vir Namibië se stadige ontwikkeling op die gebied van inligting- en kommunikasietegnologie voorgehou. Min. Mbumba het hierdie stelling gemaak in sy toespraak tydens ‘n geleentheid waar beurse aan studente van die Politegnikum van Namibië oorhandig is.

Die selfoonvoorsiener, MTC Namibia, het N$100 000 in totaal aan ses minderbevoorregte studente geskenk om hul studies in inligting-en kommunikasietegnologie voort te sit. Mnr. Mbumba het verder gesê dat baie min studente vir toelating tot studies in wetenskap, ingenieurswese en tegnologie kwalifiseer.

"Die Politegnikum in samewerking met die Nasionale Arbeid- en Ekonomiese Ontwikkelingsinstelling (NAMSTA) beplan tans slypskole vir wiskunde en wetenskap onderwysers wat leerlinge se uitslae in die vakke hopelik sal verbeter." Mnr. Mbumba sê dat Namibië se groei staatmaak op die doeltreffende gebruik van die land se hulpbronne wat grond, kapitaal, arbeid, meer kennis en tegnologie insluit.

Dit is bewys dat ‘n toename in ekonomiese groei in verskeie lande gevolg het nadat inligtingen kommunikasietegnologie daar bekend gestel is. "Ons wil dus die land se doelwitte vir groei bereik deur die sosioëkonomiese voordele van inligting- en kommunikasietegnologie te gebruik," het mnr. Mbumba gesê.

‘n Opname wat die Namibiese Instelling vir Ekonomiese Beleid Navorsingseenheid (NEPRU) uitgevoer het, handel oor uitdagings wat die inligting- en kommunikasiebedryf van Namibië in die gesig staar.

Van die uitdagings wat genoem is, is onder meer om inligting- en kommunikasietegnologie goedkoper en meer toeganklik te maak, die grootte van Namibië se bevolking en die behoefte aan een regulerende liggaam wat dié bedryf sal reguleer.

Die rektor van die Politegnikum, dr. Tjama Tjivikua, sê dat sowat drie miljard vaste en draadlose konneksies wêreldwyd bestaan. "Tog het die helfte van die wêreld se bevolking nie ‘n telefoon nie en het ‘n derde van hulle nog nooit ‘n oproep gemaak nie.

“MTC is Namibië se leier in selfoontegnologie, maar as die tegnologie nie gebruik kan word nie, is dit nutteloos. Daarom het ons opgeleide burgers nodig." Die Minister sê dat die borgskap van MTC nie net vir die vooruitgang van die studente belangrik is nie, maar ook op die gebied van inligting- en kommunikasietegnologie en vir die land as ‘n geheel ‘n baie groot rol speel.

MTC het in 2007/2008 meer as N$300 000 na die MTC-fonds oorgedra wat op die gebiede van ontwikkeling, inligting- en kommunikasietegnologie, kuns en kultuur, bewaring en gesondheid bestee sal word.

Kategorie: