|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
20.08.2010 Inflasiekoers styg effens
“ONS sien nie binne Namibië enigsins wesenlike opwaartse druk op inflasie nie. Die onlangse skerp styging in koringpryse sal beslis op verskeie fronte die inflasiekoers opwaarts druk, terwyl die daling van die brandstofprys darem die impak effens sal temper," sê mnr. Emile van Zyl direkteur van navorsing by Simonis Storm Securities.
“Nietemin was die inflasiekoers van 4.3% vir Junie die onderste draaipunt, met hoër inflasiekoerse vorentoe. Dit tesame met matige groei in krediet en effense laer buitelandse reserwes sal beteken dat verdere dalings in rentekoerse waarskynlik nie sal plaasvind nie.” Jaarlikse inflasie het volgens die Namibiese Verbruikersindeks vanaf 4.3% in Junie na 4.6% in Julie toegeneem weens hoër inflasie op kos, behuising, water en elektrisiteit. Inflasie het in die laaste 12 maande ‘n gemiddeld van 6% gehandhaaf teenoor die 6.3% van die vorige jaar. Behuising, water en elektrisiteit, gas en ander brandstof wat sowat 20.59% van die Verbruikersprysindeks opmaak en naas kos en alkoholiese drank die grootste deel van die NCPI verteenwoordig, het met 3.8% die grootste maand tot maand styging gehad. Hierdie drastiese styging kan aan die nuwe elektrisiteitsverhogings toegeskryf word wat in Julie in werking getree het. Maand tot maand het die Verbruikersprysindeks in Julie drasties met 1.2% toegeneem nadat dit in Junie net met 0.06% verhoog het. In Julie het kos en nie-alkoholiese drankies se jaarlikse inflasie van 2.5% na 3.9% gestyg weens die toename in stapelvoedsel en vleis se inflasie. Veranderings in ander komponente was relatief klein of negatief. Die totale maand tot maand verandering in die NCPI van 1.2% was die hoogste styging sedert Januarie terwyl die inflasie vir dienste met 1.2% toegeneem het en goedere se inflasie met 1.1% gestyg het. Volgens mnr. Van Zyl, is die koers van dienste heelwat hoër op 7.2% teenoor die inflasiekoers van goedere van 3.2%. Namibië se inflasiekoers word deur die koers in Suid-Afrika bepaal aangesien groot hoeveelhede goedere van daar ingevoer word, sê hy. Die inflasiekoers vir dienste is waarskynlik ‘n beter aanduider van wat binne Namibië aangaan en alhoewel dit al vir ‘n geruime tyd hoër is as die inflasiekoers vir goedere het dit redelik rondom die 7% vlak gestabiliseer. |