AIR Namibia se senior bestuurslede het die voorbeeld gestel deur die eerste van die redery se werknemers te word om die maatskappy se nuwe beleid op die voorkoming van bedrog en korrupsie in die werkplek te onderteken.
Aangesien bedrog en korrupsie by groot korporatiewe instellings wêreldwyd kommer wek, het Air Namibia besluit om met die beleid asook ‘n reaksieplan teen sulke onetiese optrede vorendag te kom.
Namibië se nasionale redery bewys daarmee dat hy streef na goeie werketiek en ‘n onverdraagsaamheid teenoor diegene wat hulle skuldig maak aan bedrog en korrupsie in die werkplek. Hier onderteken mnr. Kosmas Egombu, die redery se besturende direkteur, die beleidsdokument tydens die openbare bekendstellingsgeleentheid daarvan.