|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
5.03.2010 Goeie vordering met beleidskwessies
AANSIENLIKE vordering is reeds gemaak met die harmonisering van beleidkwessies en die praktiese toepassing daarvan soos deur die Finansiële Beleggingsprotokol (FIP) van SADC-lande versoek word.
Wanneer die protokol deur lidlande bekragtig word, hou dit aansienlike finansiële voordele en beter integrasie op streekvlak vir alle lidlande in. Volgens die Minister van Finansies, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, het alle SADC-staatshoofde reeds die Finansiële Beleggingsprotokol onderteken. Intussen is dit ook vandeesweek in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê met die doel dat die wetgewende liggaam van Namibië dit aanvaar. “Dusver het nog net sewe van die 15 SADC-lidlande die protokol bekragtig. As Namibië dit bekragtig, gaan dit die land ‘n stappie nader aan groter streeksintegrasie bring,” het me. Kuugongelwa-Amadhila vertel. Sy het onder meer gesê dat met die bekragtiging van die FIP, Namibië noodwendig die bepalings en voorwaardes wat dit stel, sal moet toepas. Dit sal onder meer behels dat ‘n gunstige beleggingsklimaat geskep word, makroekonomiese beleidsbepalings gedoen word, die werksaamhede van sentrale banke en ander finansiële instellings in pas gebring word, saamgewerk word met die bestuur van internasionale kapitaalvloei en die bevordering van doeltreffende funksionering van finansiële instellings wat ontwikkeling steun. “Die implementering van die beleidsriglyne raak nie net die openbare sektor nie, maar ook die private sektor. Plaaslike rolspelers sluit in die Bank of Namibia, Namfisa en die Namibiese Effektebeurs (NSX) om maar net ‘n paar te noem,” het sy gesê. Volgens me. Kuugongelwa-Amadhila sal die feit dat Namibië se ekonomie deel word van die groter SADC-streek, tot gevolg hê dat dit sal groei tot ver anderkant die grense van die klein marksegment waaraan dit op die oomblik blootgestel is. Dit, sê sy, sal bydra dat uitdagings soos armoede en werkloosheid in die land, hokgeslaan kan word. |