Globale resessie: is die einde in sig?

Verlede jaar die tyd was die meeste van ons salig onbewus van presies wat op ons sou wag tot die einde van die jaar. Daar was wel gerugte van die sub-prima probleme in Amerika, maar wat eers beskou was as ’n onskuldige nasionale korreksie het vinnig ontluik in ’n volbloed globale finansiële krisis.

Die wêreld-ekonomie is binne maande tot ’n resessie gedwing – die ergste sedert die tweede wêreldoorlog. Werkloosheid is byna 10% in Amerika en Europa en verwagtings is dat die krisis die wêreld oor die US$4 triljoen sal kos. Nou, na byna een jaar, is daar reeds sprake dat ons oor die hond se rug is.

En hoekom nie? Van die begin af was die resessie baie skielik en uniek en daarom is net so ’n skielike korreksie nie vergesog nie. Ons kan seker ook verwag dat aangesien die oorsprong daarvan in Amerika was, die eerste tekens van herstel ook daarvandaan kan kom. Groot geeste soos Alan Greenspan het reeds verklaar dat Amerika die draaipunt van hul resessie gesien het.

Dis dalk meer as bloot wensdenkery – hul ekonomie het immers slegs met 1% gekrimp in die 2de kwartaal vanjaar vergeleke met die negatiewe groei van 6.4% in die eerste kwartaal. Verder lyk menige maatskappye se opbrengste vir die 2de kwartaal vanjaar baie beter as wat aanvanklik verwag was.
Baie ander stem saam met Greenspan, selfs Newsweek se opskrif lees tans “The Recession if Over!”. Voor ons vasgevang word in ’n moontlike fantasiewêreld, hoor eers wat die ekonoom wat die krisis voorspel het, te sê het oor sulke uitlatings.

Volgens dr. Nouriel Roubini (ook bekend as Dr. Doom), sal ’n volhoubare globale korreksie nie voor volgende jaar te siene wees nie. Volgens hom is die huidige positiewe tekens voortydig. Alhoewel die Amerikaanse ekonomie nog nie naastenby weer op volle silinders hardloop nie en ons dalk die slag moet luister na Dr. Doom, gee die huidige aanduidings darem hoop vir die wêreld.

Die realiteit is dat die wêreld tans stelselmatig besig is om te herstel van die skade wat in 2008 toegedien is. Dit wil voorkom asof paniekbevange mense begin besef het dat die lug nie op ons koppe gaan val nie. Ander mense gaan sover as om weer riskante beleggings te oorweeg.

Regoor die wêreld vaar finansiële markte, verbruikers en ook besighede beter, dalk meer in die ontluikende lande as in die ontwikkelende lande. Maar selfs in die ontwikkelde lande is daar verrassende verbetering te sien in die vervaardiging- en konstruksiesektore.

Werkloosheid, alhoewel steeds hoog, is besig om af te neem en aanduidings is daar dat die syfer daadwerklik sal afneem van volgende jaar af. Ook huispryse is besig om goeie herstel te toon. Maar beteken dit dat die resessie verby is? Seerekerlik nie, maar dit wil voorkom asof die ergste van hierdie globale finansiële krisis verby is. As bewys hiervan is die mate waarin die tempo van insinking in die ekonomie besig is om af te neem.

’n Goeie aanwyser van verwagte ekonomiese groei normaalweg is voertuigverkope. Internasionaal is voertuigverkope besig om drasties te herstel. Die syfer het van 52 miljoen eenhede in 2008 gedaal tot by 40 miljoen (25% afname) en die jaarliks-aangepaste syfer vir 2009 dui reeds ’n herstel tot by 48 miljoen eenhede aan. Suid-Afrikaanse voertuigverkope lyk ook aansienlik beter en die huidige data dui aan dat die Suid-Afrikaanse ekonomie op die herstelpad is.

Verder is die kleinhandelverkoopsyfers in Suid-Afrika minder negatief as vantevore en lyk die waarskynlikheid van verdere insinking in die mynbou en vervaardigingsektore baie laag. Dus, al is daar steeds negatiewe elemente in die internasionale en plaaslike ekonomie, het die tempo daarvan daadwerklik verminder.

Dit mag voorspel dat die ekonomie wel ’n draaipunt bereik het en bestaan die waarskynlikheid sterk dat die herstelpunt naby is. Dit gesê, beide die internasionale en plaaslike vraag sal steeds laag bly vir die volgende paar maande. Verbruikers is steeds broos as gevolg van die besnoeiing in hul welvaart en sal met die streng kredietverlening nie veel meer beweegruimte hê nie.

Laer rentekoers sal help, maar dit gaan tyd neem om die vertroue weer terug te wen by werkende mense, om nie eens te praat van die werkloses nie. Dat die herstelproses tyd gaan neem is ’n uitgemaakte saak, maar met ons stabiele bankomgewing, goeie monetêre beleid en aggressiewe fiskale beleid blyk die begin van die herstel naby te wees.

Kom ons waag en koppel ‘n tydlyn hieraan. Die krisis het begin aan die einde van 2008, dit het gestabiliseer het in die eerste kwartaal van 2009 en begin herstel het in die tweede en derde kwartale. Positiewe ekonomiese groei mag dalk reeds in die eerste kwartaal van 2010 te siene wees.

Kategorie: