|
Republikein
|
|
Vandag se koerant Sien E-Publikasie vir al die Kleinadvertensies Vandag se Spotprent Market indicators SUPERMAAN
30 Bruidspare gekies
Suiderland 15 MeiKollig 10 MeiDie Weer
|
2.02.2010 Fides Bank Namibia voorsien vir elke NamibiërDIE Bank van Namibië (BoN) het aangekondig dat hy ’n voorlopige banklisensie aan Fides Bank Namibia Limited toegestaan het en Fides het nou ses maande om op die been te kom.
Fides Bank Namibia hoop om ’n gaping in die Namibiese mark te vul deur betroubare finansiële dienste aan landsburgers te voorsien wat ekonomies aktief is, maar nie ’n vaste salaris verdien nie. Fides Bank Namibia is ’n gesamentlike projek deur Fides (Financial System Development Services) en Swiss Microfinance Holding (SMH). Fides is in 1996 deur mikrofinansiering spesialiste van ses lande gestig. Al ses stigters het langtermyn ervaring in die ontwikkeling van finansiële stelsels en die promovering van klein ondernemings. In samewerking met ander genootskappe het Fides sedertdien mikrofinansieringsinstellings in verskeie lande, hoofsaaklik in Afrika en Oos- Europa gestig. In 2007 is Fides SMH gestig wat op ’n langtermyn grondslag die meerderheidsaandele in banke sal besit en sodoende die maatskaplike oriëntasie en bankbeleid kan beïnvloed. Die voorlopige Fides Bank Namibia sal sy deure as ’n handelsbank met ’n aanvanklike inbetaalde kapitaal van N$15 miljoen open. Die bank sal konsentreer op spaar-, krediet- en oorbetalingdienste vir klein entrepreneurs in landelike en stedelike gebiede. Die bank sal egter nie op lenings aan verbruikers en betaallysaftrekkings fokus nie. Binne die volgende vyf jaar hoop Fides Bank Namibia om tot sewe takke uit te brei, om aan meer as 100 mense werk te verskaf, totale bates van N$207 miljoen te hê en om ’n aktiewe kliëntebasis van 23 000 mikro- en klein entrepreneurs te bedien. Krediet is reeds aan meer as 20 000 mikro-entrepreneurs toegestaan wat hoofsaaklik van die landelike gebiede in Namibië afkomstig is. Die aanvangsprojek het die ontwikkeling en implementering van gepaste finansiële produkte en dienste vir die mark moontlik gemaak. Die ontluikende bank sal op elke moontlike betroubare en volhoubare wyse oplossings vind om die ekonomiese ontwikkeling in Namibië aan te help. Die bank mag kragtens die banklisensie nou betrokke raak in formele en informele bankbedrywighede met enigiemand in Namibië, veral met betrekking tot die aansoek van openbare deposito’s. Die nuwe instelling is ’n aanvangprojek wat gedurende die laaste paar jaar deur Fides, in noue samewerking met die Duitse Ontwikkelingsliggaam (GTZ), geïmplementeer is. |